Nóg ʼn verdagte vas oor moord op plaasvoorman

Jasper von Kleist. Foto: Via Facebook

Nog ʼn verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn plaasvoorman van Limpopo wat in Maart op ʼn plaas in die Tom Burke-omgewing doodgeskiet is.

Jasper von Kleist (57) is op 21 Maart op die Dale-plaas tydens ʼn plaasaanval doodgeskiet. Sy vriendin, Sonja Joubert (55), is in haar arm gewond.

Sakkie Louwrens, direkteur van die Heritage Protection Group (HPG), het aan Maroela Media gesê HPG-lede het die verdagte in die Makotopong-nedersetting naby Polokwane in hegtenis geneem. Volgens Louwrens is dié man die vyfde verdagte wat in verband met die plaasaanval in hegtenis geneem is.

Die verdagte wat in hegtenis geneem is. Foto: Heritage Protection Group

Louwrens het aan Maroela Media gesê daar word na nog drie verdagtes gesoek. Volgens hom was al hierdie verdagtes nie op die plaas tydens die aanval nie, maar was hulle na bewering almal deel van die beplanning van die aanval en het almal glo ʼn rol gespeel in die uitvoer daarvan.

Volgens Louwrens is daar tydens die verdagte se inhegtenisneming beslag gelê op ʼn vuurwapen, ammunisie, messe en selfone. Dit is nog nie duidelik of dié vuurwapen in die uitvoer van die misdaad gebruik is nie, maar dit sal na verwagting deur ballistiese toetse bepaal kan word. Die verdagte sal volgens Louwrens Donderdag in die hof verskyn.

Maroela Media kon ondanks talle navrae nie kommentaar by die polisie kry nie.

Maroela Media het vroeër berig Von Kleist en Joubert was in hul huis op die plaas toe daar deur die voordeur van die huis op hulle geskiet is. Von Kleist is in die bors gewond en is op die toneel dood verklaar. Die plaaseienaar, Nico Solomon, se 34-jarige seun, Charlie, is ook tydens die aanval gewond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hang hom ·

Net nog ‘n moordenaar .net nog ‘n moord wat die STAAT probeer verdoesel en wegsteek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.