Nog ʼn verdrinking by Wes-Kaapse strand

Argieffoto: NSRI

Nog ʼn jong man het Woensdag in die see by Strand in Kaapstad verdrink, net enkele dae nadat ʼn 17-jarige seun Sondag by dieselfde strand verdrink het.

Bemanning van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Gordonsbaai-basis is omstreeks 15:30 deur die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNHO) na die strand ontbied nadat lewensredders bemerk het hoe ʼn groep jong mans in die water in die moeilikheid beland.

Die NSRI het in ʼn verklaring gesê lewensredders het dadelik die mans te hulp gesnel en kon daarin slaag om twee mans, albei 20 jaar oud, na veiligheid te bring. Toe lewensredders die mans uit die water bring, het omstanders aan hulle gesê daar was nog ʼn man en ʼn vrou saam met hierdie twee mans in die water.

Lede van die publiek het na die twee mans op die strand omgesien terwyl die lewensredders weer die see in is om na die ander twee mense te soek. Toe die NSRI by die toneel opdaag, het hulle ook ʼn seereddingsboot ingestuur om na die man en vrou te soek.

Die lewensredders het die derde man in die water opgespoor en hom ook uit die water gebring en op die strand neergelê. Lede van die NSRI, die lewensredders en paramedici het alles in hul vermoë gedoen om die man by te bring, maar hy is later op die toneel dood verklaar.

Terwyl die NSRI se reddingsboot en ʼn waterponie nog na die vrou in die water gesoek het, het polisiebeamptes bevestig dat die vrou wat saam met die drie mans geswem het reeds veilig op die strand is. Paramedici het haar op die strand vir skok en verdrinkingsimptome behandel.

Die ander twee jong mans is deur ʼn ambulans in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem.

Volgens die NSRI kom die vier mense van De Aar in die Noord-Kaap. Die 17-jarige seun wat Sondag by dieselfde strand verdrink het, is ook van De Aar afkomstig. Dit is nie bekend of daar enige verwantskap tussen die seun en die vier volwassenes is nie.

Woensdag se slagoffer is een van talle mense wat hierdie feesseisoen in die see by verskeie plekke langs die kus verdrink het. ʼn Vier-en-dertig-jarige man het Dinsdagmiddag by Crystal Pools tussen Gordonsbaai en Kogelbaai verdrink toe hy probeer het om sy seun te red wat in die see beland het. Daar is tans ook ʼn soektog aan die gang na ʼn 12-jarige seun wat vandeesweek in die see naby Qolora by Sea in die Oos-Kaap vermis geraak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.