Nóg ʼn vet regsrekening vir Zuma

Die Konstitusionele Hof het die saak met koste van die rol geskrap. (Argieffoto: Kim Ludbrook/AFP)

Die Konstitusionele Hof het Donderdag korte mette gemaak van oudpres. Jacob Zuma se aansoek, dat hy nie aanspreeklik gehou moet word vir die terugbetaling van sowat R10 miljoen aan regskoste nie, en het dit boonop met koste van die rol geskrap.

Die bevel is nog ʼn terugslag vir die 79-jarige oudpresident wie se korrupsieverhoor ook vandeesweek in die Pietermaritzburg-hooggeregshof begin het.

Die hooggeregshof het Zuma vroeër beveel om die R10 miljoen op te dok vir sy poging om die uitreiking van ʼn verslag oor staatskaping deur die voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, in 2016 te stuit.

Die appèlhof het verlede jaar Zuma se aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshofbevinding – dat hy persoonlik vir die koste aanspreeklik gehou word – verwerp.

Zuma het hom daarna tot die Konstitusionele Hof gewend.

Die DA, EFF en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het die land se hoogste hof gevra dat die aansoek geskrap word nadat Zuma se regspan die spertyd vir die indien van hofstukke gemis het.

“Die hof maak die volgende bevel: Dat die saak met koste van die rol geskrap word,” het waarnemende hoofregter Sisi Khampepe in ʼn kort uitspraak gesê.

Intussen word gewag op nog ʼn uitspraak van dieselfde hof in ʼn aansoek van die Zondo-kommissie na staatskaping. Die kommissie het die Konstitusionele Hof gevra om Zuma tronkstraf op te lê vir sy minagting van ʼn hofbevel om te gaan getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ou Zuma! Grootste nar van die 19/20/21 en 22ste eeu.

casper

Lekker man — Lekker !!

Persheks Adri

Ek kry so lekker nou! Sluit toe ook asb en gooi weg die sleutels!

Andre

Hy sal seker nooit tronk toe gaan nie, maar hy gaan die res van sy lewe in howe spandeer en uiteindelik gaan hy bankrot wees. Hy sal daai duur plekkie van hom moet verkoop en n shack gaan bly.

Misky

Die wiel het begin draai….. stadig maar seker