Nog ’n voëlgriep-geval in Gauteng

(Argieffoto)

Twee plase, in onderskeidelik Gauteng en Noordwes, is ook onder kwarantyn geplaas en beheermaatreëls word toegepas weens voëlgriep.

Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is daar vroeër die week ook ’n moontlike uitbreking van die H5-stam op ʼn hoenderplaas naby Pretoria geïdentifiseer.

Dit kom nadat die eerste geval vroeër die maand op ʼn lêhoenderplaas aan die Oos-Rand geïdentifiseer is en die betrokke maatskappy sy 240 000 henne van kant gemaak het.

ʼn Tweede uitbreking van HPAI H5 is ook vroeër die week op ʼn braaikuiken-teelplaas in Noordwes geïdentifiseer, wat 7 000 van sy braaikuiken-teeldiere van kant moes maak. Monsters is na Onderstepoort se veeartsenykundige navorsingsinstituut gestuur vir ontleding.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, het gesê enige vrektes van pluimvee en ander voëlspesies moet hanteer word as moontlike voëlgriep totdat die teendeel bewys is. “’n Toename in vrektes moet onmiddellik aan die staatsveearts verantwoordelik vir die bepaalde gebied gerapporteer word.”

Tans het Namibië die invoer van pluimveeprodukte uit Suid-Afrika se kompartement 18/500 (die gebied waar die eerste uitbreking plaasgevind het) verbied. Botswana en Mosambiek het ook alle hoendervleis, -eiers en -vere uit Suid-Afrika verbied, en Lesotho het eiers uit Gauteng verbied.

Alle pluimveeboere sowel as diegene wat voëls aanhou, word versoek om die volgende bioveiligheidsmaatreëls toe te pas:

  • Hou voëls weg van gebiede wat deur wilde voëls besoek word;
  • Oefen beheer uit oor die toegang tot pluimveehuise deur mense en toerusting;
  • Moenie water en voedsel voorsien op ’n manier wat wilde voëls kan lok nie. Voer voëls eerder onder bedekking of in ’n afsonderlike struktuur;
  • Handhaaf die korrekte wyse van ontsmetting van die eiendom, pluimveehuise en toerusting;
  • Moenie voëls waarvan die siektetoestand onbekend is by ’n swerm of groep voeg nie;
  • Pas die toepaslike beheermaatreëls toe by die verwydering van mis en dooie voëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maggies ·

Die verlies is erg vir die hoender boere en dit is jammer. Vir die normale verbruiker is dit ook erg. Hoender pryse sal sekerlik hoog opstyg.

Karina ·

Laat hoenders soos in die ou tyd, bedags vrylik buite rondloop in kampe, en snags sal hulle wel hokke toe gaan. Kyk na die foto, die arme hoenders staan bykans bo-op mekaar. Geen wonder siektes breek uit en versprei so gou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.