Nóg ʼn vonnis ses jaar ná sakeman se moord

Ntsane Togowe (Foto: Skermgreep uit The Post/Lesotho-video)

ʼn 32-jarige man is Maandag in die hooggeregshof in die Vrystaat gevonnis in verband met die moord op Alfred Helepi, ʼn voormalige Moroka Swallows FC-speler en kroegeienaar. Helepi is op 29 Maart 2016 doodgeskiet.

Ntsane Togowe is skuldig bevind op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede en lewenslange tronkstraf met ʼn bykomende 15 jaar opgelê, sê Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Helepi is in sy huis in Phahameng, Bloemfontein, deur vyf mense oorval en doodgeskiet net ná hy uit die stort geklim het. “Die aanvallers het R40 000 gesteel en met Helepi se voertuig van die toneel gevlug. Die voertuig is later verlate gevind in die Phelindaba- informele nedersetting.”

Togowe het homself in 2018 aan die polisie oorgegee ná berigte dat hy gesoek word vir die moord op Helepi. “Hy is in daardie stadium vrygelaat op borgtog. Hy het egter tydens sy hofsaak in Oktober 2018 op ʼn geheimsinnige wyse uit die hooggeregshof verdwyn en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy het glo sonder ʼn paspoort na Lesotho gevlug, omdat sy paspoort by die ondersoekbeampte ingedien is as deel van sy borgtogvoorwaardes.”

Togowe is op 27 Julie 2021 in Lesotho in hegtenis geneem op aanklag van roof en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het dadelik, toe hulle in kennis gestel is waar hy hom bevind, begin met die proses om hom aan Suid-Afrika uit te lewer. Dit is suksesvol op 8 Desember 2021 gedoen, sê Shuping.

Staatsaanklaer adv. Lucky Bontes het ter verswaring van vonnisoplegging die hof versoek om swaar tronkstraf op te lê, omdat Bogowe versuim het om enigsins berou te toon. Hy het tot ná sy skuldigbevinding skuld ontken.

“Die oorledene is in sy eie huis doodgemaak ná hy gestort het. Een van die ooggetuies moes ʼn kombers oor hom gooi. Dit was duidelik dat hy nie gewapen was nie, en tog het hulle hom twee keer geskiet. Daar was geen rede om hom dood te maak nie, omdat hulle slegs kon vat wat hulle wou hê. Die beskuldigdes is as die skieter uitgeken,” het Bontes gesê.

Andile Gxama is al in Junie 2019 skuldig bevind en 25 jaar tronkstraf opgelê, voeg Shuping by. Die ander drie verdagtes, Alice Majake, Nthabiseng Lempe en Dira Moreenyane is nog steeds voortvlugtig ná hulle in November 2016 op borgtog vrygelaat is en versuim het om terug te keer na die hof.

Die direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat, adv. Navilla Somaru, het die Lesotho-polisie, die Valke en die staatsaanklaer geloof vir hul toewyding om seker te maak Togowe ry aan die pen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Persone wat in hegetenis geneem word vir moord moet GEENSINS borg toegestaan word nie! Hierdie kriminele het seker oor die grens gevlug.

domheks ·

Net is SA waar jy borg kry – NADAT jy skuldig bevind is aan MOORD!

Swerwer ·

Dit raak net erger erger. Die wesens sal nooit alleen gaan nie, daar moet altyd 2 en meer wees omdat hul swakkelinge is, banggatte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.