Nóg ʼn voortvlugtige aangekeer

Argieffoto

Argieffoto

Nóg een van die vier gevaarlike verdagtes wat onlangs uit ʼn bewegende vangwa in Noordwes ontsnap het, is aangekeer.

Kol. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Gontse Lebese (27) is Woensdag deur beamptes van die Hartbeespoort-polisie en Brits/Mmakau-polisie se honde-eenheid in die omgewing opgespoor en in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig die vier mans het op 5 Februarie uit ʼn bewegende polisievangwa, wat verhoorafwagtendes van die Mogwase Sentraal-gevangenis na die Brits-landdroshof in die Noordwes-provinsie vervoer het, ontsnap. ʼn Motoris op die N4 het die verdagtes sien ontsnap en die bestuurder dadelik in kennis gestel. Hulle was egter reeds weg toe die polisievoertuig stilgehou het.

Die ontsnaptes is dieselfde dag geëien as Chris Sithole (24), Alfonzo Mpofu (25), Gibson Msimango (25) en Lebese. Sithole, Mpofu en Msimango is almal van Zimbabwe en Lebese is van Ga-Rankuwa naby Pretoria.

Mpofu is Maandag in Mooinooi by ʼn huis aangekeer nadat foto’s van hom in die media versprei is. Die soektog na Sithole en Msimango duur voort.

Sithole en Mpofu, wat tereg staan op aanklagte van moord, roof en verkragting, is die hoofverdagtes rakende die moord op ʼn Pretoriase boer, Hans Huyser (50). Sithole het na bewering die sneller getrek.

Lebese en Msimango is albei verhoorafwagtend op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die verdagtes was glo betrokke by die aanval op Hannes (77) en Annetjie (74) van der Merwe in Januarie 2015 op hul familieplaas in die De Wildt-omgewing in Noordwes.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het vandeesweek aan Maroela Media gesê die polisie het reeds vasgestel hoe die ontsnapping plaasgevind het, en doen tans interne stappe. Hy wou egter nie verder oor die ontsnapping uitwei nie.

Lees alle vorige berigte oor die Brits-ontsnapping op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

alida ·

Hopenlik het die SAPD hierdie keer gesorg dat die vangwa behoorlik gesluit is. Wat is die nut van ‘n VANGWA as die deur oopgelos word!!!!!

DPJ ·

Alida stem saam.
Goeie werk om 2 al aan te keer. Hoop hulle word sonder oponthoud voor die hof gebring en gevonnis.

Irene Myburgh ·

Ek wonder nog steeds op die N4 spoedgrens ? Ek meen hoe lyk ‘n persoon wat uit ‘n voertuig spring op 60kmpu jy sal baie sleg lyk. Hulle het uit die vangwa gekom op die N4 dit klink so dat alles weer van binne gereël was. Dat die bestuurder dalk opdrag gekry het om baie stadiger te ry op ‘n spesifieke deel van die N$. Ek wonder maar net.

Topster ·

As dit n interne ondersoek is dan is daar beslis n slang in die gras en dan sal geen vangwa help nie en dan was dit dalk een 60km/p sonder die nul .Sluit die bestuurder van die vangwa ook toe hy is kop in een mus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.