Nog ʼn vrou in Oos-Kaap ontvoer

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 25-jarige vrou van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap is Maandag deur drie verdagtes gekaap en ontvoer, enkele dae nadat Jayde Panayiotou van Port Elizabeth ontvoer en vermoor is.

Ao. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die vrou is in ʼn parkeerarea in Da Gamaweg deur drie verdagtes oorval en in die kattebak van haar VW Polo Vivo ingeboender. Die verdagtes het met haar in die motor rondgery voordat hulle haar later langs die R102 afgelaai en weggejaag het.

“Die slagoffer het die voorval by die polisie aangemeld nadat sy by ʼn plaaslike hospitaal behandel is,” het Swart gesê. Sy het gesê die slagoffer het kneusplekke aan haar gesig opgedoen. Die vrou het versoek dat haar naam nie bekendgemaak word nie.

Die Polo Vivo is Dinsdagmiddag rondom 14:30 verlate in Wavecrest, Jeffreysbaai gevind. Die polisie se forensiese span is na die toneel geroep om bewysstukke te versamel.
Aanklagte van ontvoering, kaping en aanranding word ondersoek.

Panayiotou, ʼn onderwyser van Port Elizabeth, se liggaam is verlede week Woensdag in ʼn afgeleë gebied naby die Kwanobuhle-township buite Uitenhage gevind. Sy het Dinsdag voor die Stellen Glen-veiligheidskompleks in Kabega Park gestaan en wag vir haar vriendin toe sy verdwyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carl-Ann Steyn ·

… en in Ermelo is daar ook verlede week ‘n vrou ontvoer, aangerand en beroof.

Pieter ·

Hierdie tipe gedrag is tiperend van n baie groot persentasie van hierdie land se bevolking (of dan nou n sekere deel van ons bevolking..) – dit is amper n onmoontlike taak om soveel boosheid onder soveel mense te beheer of hok te slaan, daar is net eenvoudig nie genoeg tronke om al hierdie skuim te huisves nie!

Willehond ·

Daar vlam n geweldige haat in my op oor hierdie goed.Dit sal ons voorland bly solank hierdie skuim ondersteun en beskerm word deur n total ongevoelige korupte regering.

CHRISTA ·

Dis een van ons land se nasionale sporte – die ander is moord en verkragting!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.