Nóg ’n Vrystaatse boer aangeval

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

’n Boer is vandeesweek in sy plaashuis in die omgewing van Virginia in die Vrystaat vasgebind en met die dood gedreig toe vyf gewapende aanvallers ingebreek en hom van sy besittings beroof het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die 43-jarige boer het Donderdag omstreeks 04:00 wakker geword van ’n geluid buite op sy huis op die plaas Calabria, waar die Khanyiso-groenteprojek bedryf word.

Een van die verdagtes het ’n venster gebreek en hy en nóg ’n verdagte het die plaashuis binnegegaan. Dié het gedreig om die boer te skiet indien hy ’n geraas maak.

Die twee verdagtes het ’n deur vir drie van hul makkers oopgesluit en die mans is almal die huis in waar die boer se hande met sy skoenveters vasgebind is. Hy is aangesê om op die grond te lê.

Die verdagtes het die huis geplunder en ’n sak met klere en R200 gesteel. Vier van die aanvallers is uit na buite terwyl die vyfde oor die boer waggehou het. Dié is later deur sy makkers geroep en is toe vort.

Toe dit mettertyd stil word het die boer hom losgewikkel en hulp ontbied.

Dit het later aan die lig gekom dat die mans ook ’n kragopwekker, ’n trekkerbattery, ’n kollig, ’n sonpaneel, ’n tweeplaatstoof en ’n deur tydens die aanval gebuit het.

Lede van die landelike veiligheidskoördineerders het leidrade opgevolg en vier van die aanvallers is intussen in hegtenis geneem.

Die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 25 en 39, is in die besit van sommige van die gesteelde items gevind en sal Maandag in die landdroshof in Virginia verskyn.

Dié aanval volg kort op die hakke van verskeie ander aanvalle in die Vrystaat die afgelope week.

Maroela Media het vroeër berig Johan Prinsloo is op ’n kleinhoewe in die omgewing van Koppies doodgeskiet toe ʼn gewapende man op hom en sy plaaswerkers geskree en lukraak skote begin afvuur het.

Christian van Tonder (29) van Lindley is op pad huis toe doodgeskiet nadat hy ʼn veeaankoper vir ʼn sakevergadering in die Barrage-omgewing in Gauteng ontmoet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanCzu ·

Die voorval verskil soveel van gewone plaasaanvalle dat dit my laat glo die “boer” was nie wit nie.

Jannie van Niekerk ·

‘n Plaasaanval bly ‘n plaasaanval, ongeag wat die kleur van die boer is.

Magda ·

Net nog MOORDE wat gepleeg word, en niemand and as CELE en di ANC, EFF is verantwoordelik daar voor.

Harley Davidson ·

Gee asb ‘n beter beskrywing van die vermoedelike niks verkeerd gedoen totdat anders bewys verdagtes

Jannie van Niekerk ·

En nogsteeds ontken Rampsoedphosa en sy held, die rooi onderkorporaal met sy ongedissiplineerde “vegters” dat daar iets soos plaasmoorde en plaasaanvalle is.

jzjz05 ·

Al wat die moordenaars gaan stop is die doodstraf ,dit is tyd dat ons meerdruk moet opsit om dit te daar te kry.n man wat n lewe neem moet met sy lewe boet.dit sal enige mens wat dink om te moor twee keer laat dink

Harley Davidson ·

Die polisie gaan niks omtrent hiérdie doen nie net die media het die mag om hierdie moorde op wit plaasboere te stop deur te sê wie die verdagtes ,gewapende mans is .

Marius ·

Mens wonder maar net hoekom die regering nie iets daadwerklike pogings aanwend om ons boere te beskerm nie. Word die sinnelose en wrede moorde en aanvalle op ons boere dan deur die regering ondersteun?

Toy ·

Wat is die boer se naam en van wat aangehou is, ander boere se name word genoem hoekom nie hierdie een nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.