Nóg ʼn waarskuwing vir Malema oor plan vir ‘dag van grondgrype’

Julius Malema. Argieffoto: Getrude Makhafola/ANA

Julius Malema. Argieffoto: Getrude Makhafola/ANA

Julius Malema, leier van die EFF, het nóg ʼn waarskuwing gekry ná sy uitsprake en voorgestelde plan om op 6 April vanjaar grond landswyd te beset.

“Die sakeregtewaghond AfriSake se boodskap aan Malema is hard en duidelik: Tree buite die wet op en julle sal met die harde kant van die gereg verwyder word,” het Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, Woensdag gesê.

Malema het sy ondersteuners Maandag aangemoedig om op 6 April (voorheen Van Riebeeckdag) onbesette grond landswyd te beset.

“Op 6 April sal alle takke van die EFF aan die grondbesettingstryd deelneem. Hierdie aksie onderstreep die dringende behoefte in die land om die grondkwessie op te los deur grondonteiening sonder vergoeding vir gelyke herverdeling,” het Malema gesê.”

AfriSake het in 2016 honderde EFF-ondersteuners in veral Noordwes en Gauteng van eiendom laat verwyder omdat die EFF beloftes maak wat nie deur die Grondwet gesteun word nie. “Ons gun almal die reg op eiendom en daarom moet die eiendomsreg van ander ook gerespekteer word,” het Pieterse gesê.

Hy het gesê AfriSake sal die hooggeregshof op 7 Maart vanjaar nader om ʼn interdik te kry om Malema te verbied om sy ondersteuners en EFF-lede aan te moedig om eiendom te beset. “Ons sal intussen voortgaan om in te gryp waar nodig, soos met die onlangse Modimolle-grondgrype. EFF, julle moet weet dat ons julle van private grond sal verwyder en julle verantwoordelik sal hou vir skadevergoeding sowel as die koste om julle van besette eiendom te laat verwyder,” het hy bygevoeg.

Die VF Plus het Dinsdag ook ʼn waarskuwing aan Malema gerig en gesê hy speel met vuur.

“Suid-Afrika is ʼn grondwetlike demokrasie waar private grondbesit beskerm word en enige ontneming of onteiening daarvan sal moet plaasvind binne die wetlike raamwerk wat daarvoor gestel is. Indien daar met geweld opgetree gaan word om grond te beset, moet die EFF en sy ondersteuners daarvan kennis neem dat grondeienaars ook geweld sal gebruik om hul eiendom te beskerm,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Groenewald het gesê sou sulke konflikte ontstaan, sal die EFF die volle verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar en die VF Plus sal Malema persoonlik aanspreeklik hou vir die gevolge wat daaruit mag voortspruit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

55 Kommentare

jongste oudste gewildste
MissDemeanor

Hoekom WIL die man geweld he?

Piet

Malema het al geleer wanneer hy so tekere gaan, sal die president beaam dat almal grond moet kry. Wat Zuma insinueer is dat hy nie met die grondwet saamstem nie, want dis net nog ‘n erfstuk van apartheid. Malema is slinks en besef dat die mense hom sal sien as die ou van aksie, wat nie net praat maar niks doen nie. Malema beoog om blankes op te sweep want konflik beteken automaties stemme vir hom. Moet egter nie so vinnig val vir dit nie. Hy moet weer sy fokus na die regering verskuif, dan kan hulle hulleself maar uitmoor.… Lees meer »

AL

Kla hom aan vir binnelandse terorrisme dat hy in sy spore gestop word en kyk hoe die zuma regering daarop reageer. Malema moet gearresteer word. Indien regering niks wil doen kan ons hul aankla by strafhof en VN. Die ANC en EFF speel met groot kanonne. Trump sal ook nie dit duld met 600 amerikaanse besighede

Ilse

Want hy verstaan nie, hy is nog ‘n kind en nat agter die ore maar hy moet aangaan sy paksla is baie naby. Hy is ‘n dwaas want hy gaan self nie betrokke wees by die aksie nie want hy is ‘n bang gat.

Nita

Ja en as al die plase nou deur die onproduktiewe sqatters ingeneem is, sal hulle hulself en die res van Suid-Afrika, kan voer? Het die genie Malema dit al bedink? Ek wens hy wil gesinsbeplanning met dieselfde vuur beywer. Dit is waar die bevolking se redding le.