Nóg ʼn weermag-hoë dalk ongestraf ná beweerde seksuele teistering

Lede van die polisie en weermag op patrollie in Mithcells Plain in die Wes-Kaap tydens die afsonderingstydperk. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Die weermag sowel as die minister van verdediging en militêre veterane het die afgelope week steeds geweier om te sê hoekom ʼn senior offisier nie geskors is nie nadat verskeie klagtes van seksuele teistering maande gelede teen hom gelê is.

Intussen het nóg ʼn geval aan die lig gekom waar die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) skynbaar nie opgetree het teen ʼn senior weermaglid nie ná ʼn klag van seksuele teistering teen hom aanhangig gemaak is.

Suid-Afrika het Sondag Vrouedag gevier.

Maroela Media het twee weke gelede berig dat regskenners meen die betrokke offisier moes lankal huis toe gestuur gewees het, veral aangesien hy daagliks by die werk met sy slagoffers in aanraking is en eers in September in ʼn militêre hof verhoor gaan word.

Die 53-jarige kolonel is die bevelvoerder van ʼn eenheid wat verantwoordelik is vir die leiding, beplanning en uitvoering van militêre operasies soos die huidige ramptoestand weens die Covid-19-pandemie. Die klaagsters is almal jong onderoffisiere in die reserwemag en doen diens in dié eenheid. Die kolonel is onder meer verantwoordelik vir hul oproepinstruksies en besluit dus of hul werk het en ʼn inkomste verdien.

Elkeen van die slagoffers maak dieselfde bewerings: die kolonel het tydens hierdie besoeke ongevraagde seksuele toenadering gesoek, hy het hulle gereeld na ure gebel, op ongeleë tye by hul privaat woonplekke opgedaag, hul uitgevra en uiters persoonlike WhatsApp-boodskappe vir hulle gestuur.

Foto: Weermaglede ontplooi tydens die Covid-19-afsonderingstydperk. (Foto: Kopano Tlape/GCIS )

Kapt. Jaco Theunissen, woordvoerder van die SANW, het die klagtes bevestig, maar wou vroeër nie aan Maroela Media redes verskaf waarom die kolonel nog nie geskors is in afwagting op sy verhoor nie. Dié keer het die weermag navrae direk na die departement van verdediging verwys.

Nadat Maroela Media op 25 Julie hieroor berig het, is die dossier glo by die aanklaer wat daarmee gewerk het, weggeneem en aan die militêre polisie (MP) oorhandig. Daar was ook sprake dat die kolonel op spesiale verlof geplaas is, maar hy is glo steeds op kantoor.

Volgens inligting wat intussen ontvang is, is dit nie die eerste en enigste geval van opsetlike vertraging van regsaksies – wat tegnies op regsverydeling neerkom – by die hoofkwartier van die gesamentlike operasies divisie van die weermag nie.

Volgens die bron wat anoniem wil bly, is ’n saak van erge seksuele teistering glo in 2018 teen ’n ander kolonel by dieselfde divisie gemaak nadat ’n regsopinie aangedui het dat daar duidelike fisiese prima facie-bewyse bestaan vir sy spoedige vervolging, aangesien hy binnekort sou aftree.

Dié betrokke offisier was verantwoordelik vir binnelandse ontplooiing van magte. Die klaagster in die saak is ook een van die klaagsters in die huidige saak wat in September verhoor word. Sy is met ander woorde glo deur twee offisiere seksueel geteister.

Weens die erns van haar eerste klagte het die MP se spesiale ondersoekeenheid (SIB) glo onmiddellik die dossier oorgeneem en die klaagster se selfoon vir forensiese toetse gestuur aangesien die boodskappe daarop as klinkklare bewyse in die saak kon dien.

“Dit was meer as ’n jaar gelede en die kolonel het einde Februarie 2020 afgetree sonder dat hy formeel aangekla of geskors was,” sê die bron. “Sodoende ontduik hy militêre regsvervolging en behou hy sy volle eer, status en pensioenuitbetaling. Hy kan ook in enige staatsdepartement of as lid van die reserwemag dien.”

Wat albei sake veel erger maak, is dat die kolonel wat nou aangekla word glo ook by die eerste saak betrokke geraak het deur die klaagster te intimideer, maar hy het haar later ook self seksueel begin teister. Sy het haar klagtes na ʼn vrouegeneraal geneem, maar dié het haar na bewering weens haar stamafkoms verder intimideer.

“Die klaagster voel dat die militêre stelsel haar in totaliteit gefaal het,” sê die bron.

Die klaagster was ook in aanraking met die spesiale taakspan wat minister Mapisa-Nqakula verlede Desember aangestel het om seksuele misdrywe in die weermag te ondersoek. Die minister het die span aangestel omdat sy nie tevrede was met die interne prosesse wat die departement van verdediging vir sulke misdrywe in plek het nie en dat daar dikwels ander pad gekyk word wanneer sulke klagtes geopper word.

Die taakspan se voorsitter, Thoko Mpumlwana, het aan Maroela Media gesê dat sy nie op spesifieke vrae kan antwoord nie omdat sy aan die minister moet verslag doen. Sy het nietemin bevestig dat die taakspan poog om ʼn zero-toleransie te bewerkstellig teen alle vorme van seksuele oortredings in die departement.

“Die plaag van geslagsgebaseerde geweld by ons instellings moet beëindig word,” sê Mpumlwana.

ʼn Ongepubliseerde interne verslag wat verlede jaar aan die media gelek is, meld dat minstens 41 weermaglede van seksuele oortredings, ingesluit verkragting, aangekla was. Slegs 13 lede is skuldig bevind, 11 is vrygespreek en 26 sake was nie afgehandel nie.

Verskeie navrae en e-posse oor die aangeleentheid, wat aan die minister se kantoor gestuur is, is nie beantwoord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Dit sal ‘n interne ondersoek wees wat deur ‘n onder korporaal, twee korporaals, ‘n sersant, ‘n kok uit die kombuis, en ‘n general se persoonlike assistent gou afgehandel sal wees. Die uitkoms sal ONSKULDIG wees, en die senior offisier is vry om weer, en nog te teister! Viva ANC Viva!

Scalla ·

Hul gaan voorstel dat hy vir n maand blou viterjoel moet gebruik in sy koffie.

Wielspore ·

Ons land word in elk geval beheer deur oud MK lede binne die ANC en hulle sien om na mekaar.

Kobus ·

Dis nie wie jy is nie,dis wie jy ken….veral in die ANC. n Weermag is veronderstel om n land Se trots te wees maar soos alles in SA is ons weermag n verleentheid.

Sarel ·

Hier moet Anti Kopdoek praat maar sy is blykbaar stil so ook die sg Vroueliga

Jakes ·

Was daar al ooit enige offisier in die SAW wat hierdie oortredings gepleeg het, tronkstraf opgele?

Belinda ·

Een kant sê die President hy wil vroue beter beskerm, op die anderhand, laat hy ‘n SENIOR OFFISIER (maw iemand wat saam met die President moet stem en weet tussen reg en verkeerd en dat hy vroue teister) loskom met sulke dade. Jy kan net jou hande saamslaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.