Nog ʼn wending in die skolegodsdienshofsaak

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die hoofbestuur van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) het Vrydagoggend besluit om as vriend in die hofsaak oor die behoud van godsdiens in skole te onttrek.

Dit blyk dat die SAOU die besluit geneem het na ʼn uitroep van hulle lede, die publiek en verskeie organisasie uit die georganiseerde Suid-Afrikaanse gemeenskap nadat die vakbond skynbaar ʼn ommeswaai oor sy standpunt rondom godsdiens in skole gemaak het in die hofstukke wat hy einde Februarie by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het.

Die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (Ogod) het in September 2014 ses Afrikaanse skole met ʼn Christelike etos voor die hof gedaag oor die beweerde ongrondwetlikheid van die skole se godsdiensbeleid en die toepassing daarvan.

In dieselfde jaar het die SAOU se uitvoerende hoof, Chris Kloppers, tydens ʼn openbare geleentheid gesê die organisasie wat die skole dagvaar “kan in die hel in vlieg” met hul saak, want skole is ʼn spieëlbeeld van hulle gemeenskap. Die vakbond het verlede jaar as ʼn vriend van die hof tot die saak toegetree en het in hul eedsverklaring gesê hulle steun die beginsels dat skole die reg het om hul karakter met ʼn bepaalde geloof te belyn.

Uit die jongste hofstukke van die SAOU, blyk dit dat die vakbond nou nie meer so sterk oor die saak voel nie. Daarin sê hulle die Grondwet verbied dit dat ʼn skool ʼn godsdienstige identiteit mag hê. Dit is onmoontlik vir die skool om te weet wat die geloofsoortuigings van elke leerder is en daarom kan ʼn enkele godsdienstige identiteit tot diskriminasie lei, lui die hofstukke. Deelname aan godsdienspraktyke moet ook vry en vrywillig wees en leerders mag net tot die beoefening daarvan instem in pouses en na skool, maar nie tydens gewone skoolure nie.

Die ommeswaai het die publiek, lede van die SAOU, waaronder die hoofde en onderwysers van die skole in die hofsaak, en die georganiseerde Afrikaanse gemeenskap heeltemal verbyster gehad. In Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, se ope brief aan skoolhoofde, het hy die hoofde gevra om die aanvanklike eedsverklaring van die onderwysunie met hulle jongste hofstukke te vergelyk. Buys het die SAOU ook van openbare misleiding beskuldig omdat die standpunte van hulle nuusbriewe en mediaverklarings, wat sê hulle ondersteun net die “status quo van godsdiensbeoefening” in skole en die betrokke nasionale beleid, nie ooreenstem met die standpunte van die SAOU se nuwe hofstukke nie. Hy het die SAOU in amptelike skrywe op 2 April en in dié brief gevra om “liewer aan die saak te onttrek”.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het gesê die SAOU doen die regte ding om te onttrek.

“Ongelukkig is daar steeds ʼn leemte in die hofstukke. Duisende onderwysers, wat sterk daaroor voel dat skole ʼn spesifieke etos mag handhaaf, se stemme word steeds nie gehoor nie. Solidariteit het reeds in die week aansoek gedoen om as vriend van die hof toe te tree en gaan nou voort hiermee om te verseker dat die unieke stem van roepingsgedrewe onderwysers oor die saak gehoor word.”

Ogod het ook aangedui dat hulle nie Solidariteit se aansoek om as vriend toe te tree sal opponeer nie.

Die vakbond gaan in die week begin om duisende mandate van onderwysers te werf. Solidariteit moet op 15 Mei hul aansoek om as vriend toe te tree voor die hof argumenteer.

“Die ideaal sal wees as daar ʼn eendragtige stem gehoor word. As Solidariteit en die SAOU saam kan argumenteer vir skole se reg om ʼn grondslag vir ʼn godsdiensbeoefening te kies, sal dit ideaal wees, maar intussen gaan ons voort,” het Hermann gesê.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat die ses skole in die hofsaak verteenwoordig, het bevestig dat hulle in kennis gestel is van die SAOU se besluit om as vriend van die hof te onttrek. Colditz wou egter nie verder kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie.

Maroela Media het die SAOU genader vir kommentaar maar het ten tye van die plasing van hierdie berig nog geen terugvoer ontvang nie.

Agtergrond

Die Organisasie vir Gosdienste-Onderrig en Demokrasie het in September 2014 ses skole per hofaansoek voor die hof gedaag oor die beweerde ongrondwetlikheid van die skole se godsdiensbeleid en die toepassing daarvan. Hans Pietersen, voorsitter van die organisasie wat die hofstukke bedien het, meen dit is ongrondwetlik om een godsdiens uit te sonder en dat die Christelike gebruike by die betrokke skole gestaak moet word, want dit is diskrimineerend en leerders kan geviktimiseer voel.

Die skole wat tans deur Fedsas in die hofsaak verteenwoordig word, is die Laerskool Baanbreker in Boksburg, Laerskool Garsfontein in Pretoria, Hoërskool Linden in Johannesburg, Laerskool Randhart in Alberton, Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn.

Antichristelike fundamentaliste het al in Oktober 2009 gedreig dat skole met ʼn Christelike etos binnekort voor die hof gedaag sal word. AfriForum het toe reeds sterk standpunt daarteen ingeneem en gesê die organisasie sal skole teen sulke regsaksie steun. AfriForum is ʼn vriend van die hof en ondersteun die skole met regskostes.

Die hofsaak sal op 15 tot 17 Mei in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Victor ·

Dit is werklik goeie nuus dat die SAOU hulle hofstuk terug getrek het.

Oom Johan Willemse ·

Moet Christene altyd terugstaan as hulle belange bedreig word? Die skole wat ‘n Christelike etos handhaaf presteer ook bo-gemiddeld, derhalwe word hulle geteiken deur jaloerse halfgeskooldes en ongelowiges omdat heelwat ander skole faal in hul opvoedingstaak.

AL ·

Baie waar. Die sukses van godsdiens is net so effektief in die beroepswêreld. Instansies wat open met gebed en skriflesing is meer geneig om met ñ beter gemoed die dag te begin, verdraagsaam teenoor hul kollegas te wees en beter menseverhoudinge te handhaaf.

Katryn ·

Ons as ouers het die voorreg om ons kinders se toekons en hiernamaals te kan help bepaal!! Leer hulle van kleinsaf waar ons vandaan af kom en waar ons eendag moet heengaan! Hulle moet dit goed verstaan en glo! Maar sommige van vandag se ouers is maar halfhartig want hulle weet self nie waar hulle heengaan nie! Voor jy ‘n kroos kry kry eers jou saak met onse God in order. Dan is kinders kry en grootmaak baie makliker! Maar: baie van die skole wil nie Godsdiens onderrig beoefen nie want hulle weet nie hoe nie!! Nou ontse hulle die nuwe geslag hulle voorreg! Gevolglik het die satan gewen!! Waak en bid daarteen want julle weet nie wanneer die eindtyd kom nie!!!

Rina van der Waal ·

Dit is SA se grootste probleem en deel van die verval. God word nie meer erken nie dus sal SA ook nie deur God gehelp word nie.
Dit behoort elke skool se keuse te wees of hulle godsdiens wil beoefen al dan nie. So ver ek weet is daar Moslemskole. Waarom word hulle nie gedwing om hulle geloofsklasse af te skaf nie?

Dirk ·

Geloofs onderrig behoort by die huis gedoen te word. Nie by die skool nie.

Joe Olivier ·

Geloofsonderrig moet by die huis en kerk gedoen word. Geloofsbeoefening moet orals gedoen te kan word.

AL ·

Dirk dit kan by huise sowel as by skole gedoen word. Godsdiens is nie skadelik nie en het n goeie dosis sielkunde en bevat ook suksesvolle lewensriglyne.
As n ouer te sleg is om vir sy kind bogenoemde te kan leer, waar gaan hy die leiding en riglyne kry om suksesvol sy jonglewe aan te pak?

Reti ·

Stem saam. Dis juis die probleem. Godsdiens hoort ORAL. Dis nie ‘n kerkding of huisding nie. Dis ‘n oralding. Jou geloof bepaal jou hele optrede.

Dawie ·

Hulle het seker begin agterkom dat ondersteuning vir hulle oorspronklike standpunt nie so sterk was as wat hulle gedink het nie. Dis goed so. Godsdiens hoort tuis en in die kerk. Nie in die skool nie.

Marietjie Hancox ·

En 1dag gebeur daar iets sleg in die skool, dan vra almal ‘waar was die Here, hoekom het Hy dit toegelaat’

Baas Daan ·

Die sleg sal gebeur want daar is eenvoudig geen gode nie.

David ·

Nou moet die SAOU net voortgaan en terugkeer na hulle oorspronklile posisie dat skole wel die reg het om ‘n Christen-etos te hê. Ek het reeds uit SAOU bedank en keer nie terug voor hulle hierdie saak nie duidelik uitklaar nie.

Joe Hall ·

Gelukkig is die SAOU se voortbestaan nie van jou en ‘n paar dwepers afhanklik nie

Esther ·

Godsdiens hoort nie net tuis en in die kerk nie, Christelike geloof is is ‘n verhouding met God die Drie in een en moet tydig en ontydig uitgeleef word. Dit is nie ‘n sakpas porsie nie, net wanneer die nood druk nie. Tans hou ek skool waar daar geen geloof mag beowfen word nie, dit is negatief sigbaar deur die hele skool. Grense, respek en dissipline word ook deur godsdiens neergelê
Ek dink ook a.g.v SAOU se besluit my lidmaatskap op te sê, die vraag is watter ander onderwys unie staan vir waarvoor ek staan. Ek is ook lid by Solidariteit, maar dit is nie onderwys unie nie.

Rudy Maritz ·

Nogal ironies dat die klaer in die saak se afkorting ogod is. O God wat word van ons? Suid Afrikaners verander in papsakke. Almal word deur iets tenagekom. Kyk net skeef na hulle dan tjank hulle. Bid tot jou God dan tjank hulle.

Rudy Maritz ·

Ek vra maar net maar toe julle op skool was het julle nie kapsie gemaak nie. Waar kom die antichris dan nou uit?

Jacob Matthews ·

Dis juis die rede vir die saak. Kinders is bang om kapsie te maak, want hulle is bang dat ander studente en onderwysers hulle gaan boelie daaroor.

kobus ·

Ek is baie seker die skole het nie hulle Christelike grondslag verswyg toe hulle met werwing besig was nie. Ek sien dit op ‘n groot borde by skool hekke, “Christelike beginsels of Christelike grondslag” of iets in der voege word geadverteer. As jy voel jou kind mag nie die Christelike grondslag onderwys geleer word nie, sit jou kind in ‘n ander skool. Daar is verseker een naby aan jou. As jy dink godsdiens word net by die huis of kerk geleer, is dit goed vir jou, maar as 80 % van die ouers en kinders in n skool dit verkies, hoekom mag hulle nie?

Peanut ·

Dit lyk meer asof dit geteiken word teen skole wat n Christelike stelsel wil betekin, so gaan hulle dan optree teen Moslems ook. Hierdie gaan nie oor die demokratiese hantering v godsdiens in skole nie maar is deur anti-Christne gemik net op Christene. Ek wil sien hoe hulle die gaan toepas in n Moslems of Joodse gemeenskap. Ek wil ook dan net die vraag vra: wat v my demokratiese reg om wel godsdiens onder rig te ontvang, mnr anti-Chris. Ek glo ook dat indien u nie u kind by n Christelike skool wil sit nie bied aan jou kind die keuse, ek glo ook dat indien hy nie aan die oggend opening wil deel neem nie dan moet dit sy keuse wees, maar moet ook nie dat jou keuse die meerderheid wat dit wel verkies om in n Christelike skool te wees die reg ontneem nie. Daar is ook ander opsies vir julle anti-Christne glo ek.

Jacob Matthews ·

Peanut, hierdie saak sal as ‘n basis gebruik word om moslemskole wat publieke bevondsing kry ook aan te vat. Meeste moslemskole is privaat skole.

Koos1 ·

SAOU is lyk my maar lekker deurmekaar. ‘n Unie waar hulle 2 weersperkende standpunte het. SAOU welkom by die begin van julle einde!

Joe Hall ·

Siende dat jou kommentaar toegelaat word om die SAOU te beswadder, stel ek graag voor dat jy gerus moet voort droom, want die meerderheid lede steun steeds die SAOU.

jaco ·

Ek was vanaf 1974 -1985 op skool in die ou SA. In wit skole was daardie jare die sterk jare van. christelik-Nasionale onderwijs: mooi woorde wat eintlik beteken het NG Kerk, Broederbond en Nasionale Party gedomineerde onderwys. En onthou hoe one geleer is dat babadoop die enigste en regte manier van doop was EN dat apartheid die wil van God was.

Willem van den Berg ·

Die meerderheid – nie die onderwysers nie – bepaal wat met belatingbetalers se geld gebeur in ‘n demokrasie. Die onderwysunies se oortuigins/wense is nonrelevant – Solidariteit se regsadviseurs behoort dit van die begin af te besef het, ogeag wat die SAOU onderneem het of nie. Dis onrealisties om ‘n ander uitkoms te verwag en ons het dit met die instelling van die model C skole in die later tagtigs reeds voorspel. Persoonlik dink ek dat as ‘n sekere geloof in ‘n skool bevorder moet word, moet daai geloof vir so ‘n skool betaal. Geen regte word so van enigeen weggeneem of voorskrifte op enigeen afgedruk nie.

André ·

Ek het begin onderwys gee by 1 van die roemryke skole in die Paarl in 1966. Heerlike Bybelonderrig gegee. Die Joodse leerlinge het n Rabbi gehad wat die skool in daardie lesure besoek het. Ons leerders het die ander se Godsdiens respekteer . Nooit n probleem gehad nie. Die antichris se kind kan tuiswerk doen in dié periodes. So die antichris se kind gaan besoedel word as n leerder voor n eksamenvak n skietgebedjie na Jesus stuur.

Stella ·

In ons jare was die bybelperiode altyd die af periode. Onderwysers maak nie erns met godsdiensonderrig nie. Begin daarmee by die huis. Gaan kerk toe. Stel self die voorbeeld.

Fanie ·

Willem, ons as Christenouers betaal dubbeld vir onderwys- ons belasting én weer skoolgeld. Waarom kan ons dan nie demokraties ons skool se waardes kies nie? Ouers wat nie Christelike waardes wil leer nie, se kinders word by ons skool met deernis vrygestel. Dit gaan nie net oor die kort Saalopening of Godsdiensperiode nie. Skole moet samebindende waardes hê, wat sterk genoeg is om as ‘gedragskompas’ te dien. Ons land het reeds soveel geweld. Skaf skole godsdiens af, is dit chaos. Help eerder om die “Malema-geslag’ met Christelike waardes op te voed, anders word misdaad volskaalse terreur.

Sunette ·

My kinders is een van die skole en ons staan heeltemal saam die skool om nie hulle Christelike beleid te verander nie. As jy jou kind in n skool sit van n ander geloof kan jy gaan en wil he hulle moet die hele skool verander agv jou wat jou kind in daai skool sit nie. Daar is baie ander skole wat jy jou kind in kan sit as jy rerig so sterk daaroor voel hkm jou kind in skool sit waarmee se beleid jy nie saam stem nie. En in my kinders se skool is daar nie een ouer wat hulle Christelike beleid wil verander nie hoekom dan nogsteeds aangaan daarmee almal stem mos saam laat die skool bly soos dit is. Een van die redes hoekom my kinders in hulle skool is is oor die onderrig wat hulle kry insluitende die Christelike onderrig. Bonop dit leer my kinders van ander gelowe ook en om ander se geloof te respekteer dis is nodig in die land van ons.

Louise ·

Stem 100% saam. Toe ons die besluit moes neem, waar om ons dogtertjie in te skryf, het Christelike godsdiens onderrig by die skool, net vir ons bevestig dat ons gewaarborg is op ‘n goeie onderrig met gedissiplineerde en goeie waardes. Sy is ook in een van die skole. En ons staan ook bankvas agter die skool in die hofsaak. Ons het ook ‘n biddagbyeenkoms in die omgewing gehad die afgelope naweek, waarvoor ons telke male weereens gebid het vir ‘n positiewe uitkoms vir al die betrokke skole. Mense, draai terug na God, plaas julle lewens geheel en al in Sy hande, en sien eerstehands hoe dinge regkom in ons skole, ons samelewing, en dan ook in ons land! Laat God se wil geskied! Amen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.