Nog ’n Wes-Kaapse terugslag vir die DA

Demokratiese Alliansie

Die slegte nuus wil net nie ophou inrol vir die Wes-Kaapse DA nie.

Nadat een van die party se prominentste lede die naweek uit die provinsiale wetgewer bedank het, het die DA vandag beheer verloor oor die stadsraad van Beaufort-Wes nadat sy koalisievennoot gekies het om eerder met die ANC saam te werk.

Die stadsraad van Beaufort-Wes het vanoggend ’n mosie van wantroue in die DA-burgemeester, Japie van der Linde, en ander uitvoerende ampsdraers aanvaar nadat die Karoo Demokratiese Front (KDF) se Noel Constable, wat sedert 2016 die magsbalans in die raad hou, sy stem van die DA na die ANC oorgeskuif het.

Die ANC het ook al die munisipale bestuursposisies oorgeneem, met die omstrede oudburgemeester, Truman Prince, wat nou as onderburgemeester sal dien.

Die ooreenkoms tussen die DA en die KDF is in 2016 onderhandel deur Patricia de Lille, wat destyds provinsiale DA-leier was en in Beaufort-Wes grootgeword het. De Lille is egter nie meer die provinsiale leier nie.

Die nuus dat die DA beheer verloor het oor die hoofdorp in die Karoo volg op die skoknuus dat adv. Lennit Max, wat verlede jaar binne ’n dosyn stemme daarvan gekom het om provinsiale partyleier te word, ook vir die DA verlore is.

Hy het as lid van die provinsiale wetgewer bedank om spesiale raadgewer vir die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, te word.

Max, ’n gekwalifiseerde advokaat van die hooggeregshof en voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die afgelope paar maande sy frustrasie laat blyk omdat sy politieke en professionele vaardighede nie deur die DA aangewend word nie, en hy eerder deur die party gebruik is om diens te doen as lid van die wetgewer se portefeuljekomitee oor kuns en kultuur.

Max het verlede jaar, as voorsitter van die wetgewer se etiek-komitee, ’n ondersoek na korrupsieverwante bewerings teen die provinsiale leier van die DA, Bonginkosi Madikizela, gelei. Van die vrae daarin was so regstreeks dat dit tot ’n luidrugtige woordewisseling tussen Max en die provinsiale hoofsweep, Mark Wiley, gelei het. Dit is welbekend dat hy en die provinsiale DA-magshebbers lankal nie meer om dieselfde vuur sit nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Doepie ·

Ja as Wes Kapenaar kan ek getuig dat die DA in hul afwesigheid skitter by elke belangrike saak. Hulle is geheel en al onbetrokke.

Adam ·

Niks om oor verras te wees nie. Ek het ongeveer twee maande gelede op hierdie forum Maimane met Kortbroek vergelyk deudat beide van hulle in staat is of was om ‘n politieke party te laat inplof. Die DA is sy eie grootste vyand: swak leierskap, geen duidelik gedefinieerde beleid, onophoudelike en sinnelose binnegevegte ens ens. Tragies!!!

Sieg ·

Die DA sal nie lank hou nie dan is alles ANC SA is doomed, die kommuniste neem oor.

Francois le Cochon ·

Die DA is besig om hulself te vernietig omrede party lede hul eie belange bo die van die party stel. Hulle het grootkop gekry en dink meer van hulself as wat werklik nodig is.

White Rhino ·

Ek kan nie minder oor hulle omgee nie – hulle plof inmekaar en daaroor is ek baie bly!!! Wat jy saai sal jy maai!!!
Hulle was nog altyd onbetrokke maar die mense sien dit nie raak nie. Miskien gaan hulle oe dalk nou oop.

Mielie ·

Hulle verskil glad nie van die ANC nie. MM dit gebeur met n party wat arrogant raak en die party bo die kiesers stel. Met al julle EFF politiek is die neusie verby. HZ moet maar van voor af n nuwe party stig sy was in beheer van die party en het na die kiesers geluister. Met al haar foute was sy altyd oopkop. Die DA is die ANC net in n ander kleur…..Blou……Hulle gaan n bloutjie loop met die verkiesing volgende jaar. Al die jare se harde werk is on sy …..bloutjie in

wraggies ·

Beaufort-Wes gaan sekerlik nou eers vooruit boer onder die ANC en Prince, of hoe? Geluk aan die inwoners LMGA.

Gollie ·

Prince en Anc van Beaufort-Wes is siek,hy soek net stoel hulle wil hulle net self verryk en dan kry hulle ondersteuners net so swaar soos al die ander inwoners daar.

LB S ·

Ja, en almal wat die DA so slegmaak, so asof enige party ooit sonder probleme kan wees, gaan nog bitter spyt kry as hulle nie vir DA stem, en so EFF weghou as die grootste opposissieparty nie!

Johan H. ·

Binne kort is sy nuwe naam Si.h… wes,,, Soos baaaie ander dorpe in die land!!

Koos ·

Dit onderstreep net opnuut dat sekere mense nie betroubaar is nie en so min koers hou soos ‘n weerhaan. Dit gaan nie oor beleid nie maar eie gewin. Laat my wonder oor wat hulle sal doen indien die Cape Party ooit in die Kaap aan bewind sal kom. Hierdie mense het nog altyd hulle eers by dié groep en dan by daardie groep geskaar soos dit hulle geval. Tweegatjakkalse van formaat.

Gertryda ·

Good bye Kaapland!!!!!! DA gaan spyt wees oor sy eie interne streke…. was so op JZ gefokus nou val die wiele af. DA gee Kaapland op n skinkbord vir ander partye.

Ollie ·

Ek was n DA ondersteunaar maar ek en ander skaar my nou 100% by Cope

Amelia ·

Na wat die DA met sy jarrelange lede doen, wat verwag hul? Sorry doen dit aan iemand wat saam jou werk en wat sal jy doen aan diegene wat maar net vir jou stem??????? My stem gaan ook vir Cope!

Anoniem ·

Het die DA nou werklik gedink hulle kan die trekvoëls vertrou ? Die DA moes die een of ander tyd vou, want hulle samestelling van ‘n klomp ou Sappe, ANC en PAC afvalliges kon nooit werk nie.

Cheerio ·

Whaaaaaaaaaaaaaa ou MOESIE ons het vir jou gese jy gaan slae kry met jou rassistiese uitlatings en jou aanslagt op vroue en op witmense spesifiek .. nou het jy nie net wittes se steun verloor nie maar ook bruines en swartes se steun . ek kry so lekker my tone krul eintlik om … JY het te gou grootkop gekry … en die ergste is jy weet nie eintlik wat jou beleid is of wat jy wil of nie wil doen nie … die DA gaan soos die NP verdwyn !

kas ·

Die DA se ondergang het alles begin met die De Lille debakel.Die DA moes blad geskud het en vrede gemaak het maar bottelblond wou voort baklei.Dit was duidelik dat De Lille ‘n politieke bal geword het en moesie wou van haar ontslae raak.Geen van die bewerings teen haar is gegrond op feite nie.So gaan die DA al sy steun verloor.Zille is nog ‘n sprekende voorbeeld.

kas ·

My vraag is net dit,Hoeveel sake het Cope al namens blankes opgelos soos Vryheidsfront + en Afriforum en onthou hulle veg nie net vir blankes nie.Gaan kyk maar na die sake wat die twee liggame beveg het in die howe.

kas ·

Wie is die “ONE NATION ONE FUTURE” waarvan Die DA praat in die logo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.