Nog net 400 van die 10 000 soldate in KZN ontplooi

Die vloede het verwoesting in KwaZulu-Natal veroorsaak (Foto: Phill Magakoe, AFP)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het nog net 400 soldate in KwaZulu-Natal ontplooi. Dit nadat die weermag onderneem het om 10 000 troepe te stuur om hulp te verleen in vloedgeteisterde dele van KwaZulu-Natal.

Volgens brig.genl. Andres Mahapa, ’n senior weermagbeampte, is die 400 soldate solank vooruit gestuur en sal die oorblywende 9 600 soldate “binnekort” ontplooi word.

Vloedgeteisterde gemeenskappe wat desperaat is vir water en ander basiese dienste, het dit bevraagteken waarom die weermag se hulp nie vroeër ingebring is nie.

Grootskaalse oorstromings in dele van KwaZulu-Natal het reeds die lewe van 448 mense geëis en duisende dakloos gelaat. Reddingswerkers en nooddienste het Sondag in alle erns begin om na meer as 48 vermiste mense te soek. Gesamentlike burgerlike en militêre soekspanne is steeds besig om liggame uit die puin te verwyder.

Die weermag het dokters, elektrisiëns en spesialiswerkers ingeroep om hulp te verleen.

Volgens Mahapa gaan die weermag volgende fokus op die skoonmaak van paaie om die beweging van goedere en vervoer moontlik te maak. Die weermag beoog om ook te help met die bou van tydelike brûe.

Verskeie gebiede is steeds vir die publiek ontoeganklik nadat brûe en paaie gekraak het onder die gewig van die vloedwater.

Genl.maj. Sandile Hlongwa, wat die gesamentlike operasies aanvoer, het gesê terwyl die land “voorbereid” was vir ʼn ramp, het die omvang van die verwoesting as ʼn “skok” gekom, met ongekende vernietiging.

Hlongwa het die modderstortings wat talle huise onbewoonbaar gelaat en self sterftes tot gevolg gehad het, as ’n seldsame verskynsel beskryf.

Hlongwa en munisipale amptenare, insluitend ingenieurs, het ʼn lugopname van die stand van sake gedoen om te bepaal watter gebiede geprioritiseer moet word, en werk sal binnekort begin.

“Ons gaan nie slaap nie. Ons gaan met ons beplanning begin en teen môre die opruimingswerk begin aanpak,” het Hlongwa onderneem.

Verskeie instansies het intussen hul harte oopgemaak om geld en basiese goedere aan slagoffers wat deur die oorstromings in KwaZulu-Natal geraak is te skenk.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het intussen nóg reën vir dié naweek in KwaZulu-Natal voorspel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Witbaard ·

Ons het geen soldate, slegs mense in uniform wat salaris trek

Johann ·

10 000? Van waar? Wag seker eers vir hulle 5ster hotel verblyf.

Misky ·

Meer as ‘n week later en hulle is blykbaar oppad…..

Ek het onlangs op Showmax gekyk oor die Laingsburg vloede in 1981. ‘n Dag na die ramp, was die destydse weermag daar en het menselewens gered en tydelike kampe opgeslaan op skole se rugbyvelde. So gaan die lys aan. Dit is meer as 40 jaar gelede sonder tegnologie en selfone en data en ja, binne ‘n dag is hulle daar. Dit is weermag en daar in tye van nood en jou land beskerm. Nie weke later en hulle beweer hulle is oppad nie. Selfde laasjaar met die onluste. Toe alles oor is en die skade gedoen, kom hulle hier aangejaag….. too little, too late

Harley Davidson ·

Dit is die ANC weermag fluks by die bak maar lui by die vak.

Manie ·

Gebruik die klomp tronkvoëls wat op ons geld teer om onder sterk gewapende bandiet oppassers die opruim werk te doen.

Johan ·

Ek hou van die “ongekende verwoesting” stelling, dit klink soos iets wat ons nou al vir 25jaar by die cANCer sien.

Cy ·

Hulle stuur seker eers die verspieders in om te kyk of dit die moeite werd is om ontplooi te word en hoeveel hulp is dan werklik nodig as die ergste werk al gedoen is .Oor n week staak hulle want die kos en slaapplek is nie volgens hulle standaard nie en hulle word nie oortyd betaal nie .Ek vermoed die tente wat opgeslaan moet word is aan Mosambiek of Kongo geskenk so hulle is te skaam om dit terug te vra

PieterJ ·

En die 400 kan die werk van 10 mense doen, as hul hul bes doen.

Di ·

ALLES wat uit hierdie spul se monde uit kom is net LEUENS. Wonder of hulle mense se intelligensie onderskat. Altyd VUUR EN VLAM totdat dit kom by die daad by die woord voeg dan is almal “missing in action”. Seker te besig om planne te beraam hoe om die geld te “SPANDEER”

Samuel ·

Niks gebeur vinnig in hierdie land nie. As dit is hoe hulle(SANW) in ramptoestand reageer, wil ek liewe nie weet wat in ‘n oorlog situasie gaan gebeur nie. Al wat vinnig gebeur is diefstal, korrupsie. Viva ANC!!

Jack ·

Die soldate is seker nog almal in mosambiek. Presies die beloftes van die onluste in dieselfde provinsie word nou weer herhaal en die resultaat is dieselfde. Mnr Ramaphosa het sy beheer oor die land se militere verloor en hy is die bevelvoerder. Tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.