Nog net vyf dae vir kommentaar oor vuurwapenwet

Die wysigingswet hou groot gevolge vir private vuurwapeneienaars in. (Foto: pixabay)

Daar is nog net vyf dae oor om kommentaar te lewer op voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer. Die spertyd om kommentaar te lewer is reeds met 21 dae verleng en dit verstryk nou volgende Maandag (2 Augustus).

Die voorgestelde wysigings het skerp kritiek ontlok, veral omdat dit onder meer selfverdediging as rede vir die besit van ʼn vuurwapen sal skrap.

Dit gaan ook ʼn reuseuitwerking op vuurwapeneienaars soos sportskuts en jagters hê. Dit beperk onder meer die aantal vuurwapens en ammunisie wat toegewyde jagters en sportskuts mag besit én verbied die herlaai van ammunisie deur vuurwapeneienaars vir hul eie gebruik.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, het ʼn hernieude beroep op mense gedoen om nie net die party se aanlyn petisie teen die wysigings te onderteken nie, maar ook om hul eie formele geskrewe besware daarteen in te dien.

Volgens die DA het meer as 83 000 mense reeds die petisie onderteken sedert dit in Mei vanjaar van stapel gestuur is.

Whitfield sê die wetgewing probeer “wetsgehoorsame burgers ontwapen” en wil hulle dwing om staat te maak op ʼn polisiediens wat onderbeman is, nie genoeg hulpbronne het nie en misluk in die stryd om misdaad te bekamp.

“Die onlangse gewelddadige oproer en plundering in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng het die polisie se onvermoë bevestig om misdaad doeltreffend te pak. Gemeenskappe is aan hul eie lot oorgelaat om hul eiendom te beskerm met min of geen hulp van die polisie of wetstoepassers nie,” sê Whitfield.

“Die verwydering van selfverdediging as rede om ʼn vuurwapen te besit ná dié ongekende onrus is nie net roekeloos nie, dit laat ook onskuldige mense aan die genade van misdadigers oor.”

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond (AB), sê ook hoewel dit die staat se werk is om werk en orde in ʼn land te handhaaf, het die afgelope paar weke gewys dat dit nie die geval is nie.

“Oor die land heen moes Suid-Afrikaners hulself, hul families en hul eiendom terselfdertyd beveilig in ʼn tyd van grootskaalse onluste en anargie. Die skade en dodetal sou waarskynlik veel meer en erger gewees het in ʼn ontwapende omgewing, soos wat dit in die voorgestelde wetsontwerp voorsien word,” sê Bosman.

Hy sê daar is boonop geen aanduiding dat die situasie sodanig verbeter het om eensklaps mense se vertroue in die polisie en die weermag te bevestig nie.

Bosman het Maandag gesê in ʼn tyd van “verhoogde spanning” is dit allermins die tyd om met voorgestelde wetgewing Suid-Afrikaners van hul vuurwapens te ontneem. Hy sê ook dit word beskou as nog ʼn aanslag op mense se eiendomsreg.

Hy meen die voorgestelde wetgewing moet in die geheel onttrek word en dat die staat se bestaande vermoëns eerder uitgebrei moet word.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging, het vroeër gesê die voorgestelde wysigings gaan verreikende gevolge inhou. SA Jagters se hoofbeswaar is die bedoeling van die wet om burgers se toegang tot vuurwapens te beperk, in teenstelling met die bestaande wetgewing wat mense se grondwetlike reg op lewe en liggaamlike integriteit bevorder.

Die webwerf Dear South Africa (Dear SA) sê hy het tot dusver meer as 145 000 kommentare oor die voorgestelde wysigings hanteer.

Vrystaat Landbou (VL) het verlede week ook weer ʼn beroep op mense gedoen om kommentaar teen die wysigingswet in te dien.

Die organisasie sê glo ook die onlangse voorvalle in KwaZulu-Natal en Gauteng – en pres. Cyril Ramaphosa se erkenning dat die staat onvoorbereid op die grootskaalse plundering was – het weer die klem op mense se reg op selfverdediging geplaas.

Tommy Esterhuise, adjunkpresident van VL, sê dit was in baie gevalle burgerlikes uit alle kulture wat die laaste versperring tussen grootskaalse plundering en vernietiging in hul gemeenskappe was.

“Dit is aanduidend van die belangrikheid van lede van die publiek se vermoë om in selfverdediging te kan optree. In daardie opsig maak die voorgestelde wysiging wat vuurwapenlisensiëring vir selfverdedigingsdoeleindes wil verwyder, hoegenaamd nie sin nie.”

VL sê ook dit is een van die talle voorgestelde wysigings wat uit voeling is met die werklikheid van die misdaadsituasie in die land en vervat is in die kommentaar wat VL ten opsigte van die voorgestelde wysigingswet ingedien het.

Die burgerregtegroep AfriForum het ook kommentaar teen die wysigingswet ingedien en dit bestempel as ondeurdag en swak nagevors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gert ·

Bekkie wil net sy onbekwame personeel by die nasionale vuurwapen register help om op te vang met hulle werk wat hulle nie kan klaarkry nie. As hy die wet regkry verval die meeste aansoeke.

Tiptol ·

Presies, dan kan hulle al daai opgehoopte hope aansoeke verbrand. Dalk het hulle dit klaar gedoen…

Cherokee ·

Askies Gert, maar ek duimaf àltyd kommentare wat die kommuniste onder troetelnaampies bespreek.

Werner ·

Enige iemand wat dink hulle gaan die mense ontwapen na die onluste in Natal droom van wors in n honde hok.Die verskoning van n regering het in elkgeval nie die vermoe om die mense te ontwapen nie.So Cele gaan liewer terug kleuterskool toe .

Persheks Adri ·

Hy wil ons verdomde kriminele maak Werner hy kan dit vergeet waaragtig waar! Ons betaal vir sy gewapende wagte. Hy sal nie 1 dag op ons vlak kan lewe sonder sy wagte nie

Werner ·

Net so Adri . Ek is liewer n krimineel wat myself kan verdedig as n lam wat ter slagting gelei word.

Erika ·

Sekere mense Wil wets gehoorsame Burgers ontwapen om nie hulle self te verdedig nie wat Hulle Dadelik in on voordelige situasie sal sit as die burger sy familie verantwoordelik móet beskerm . dat hulle nie sal oorleef nie……..Terwyl die “misdadiger” meeste van tyd n wapen sal he (wat onwettig gekry is met hulp ) om misdaad te pleeg

Persheks Adri ·

Hoedeman jy hou aan krap! Dis nie ‘n voorreg om ‘n wapen te besit nie dis ons grondwetlike reg om onsself te beskerm om te leef! SAPS weet nie hoe om ons te beskerm nie en julle verloor vuurwapens en ammunisie!

Harley Davidson ·

Ek het reeds komentaar gelewer hieroor maar sou hierdie wet deurgevoer word sal dit van my ‘n krimineel maak

Linda ·

Dink hulle ons is onder die spreekwoordelike kalkoen uitgebroei wil ons ontwapen sodat hulle van ons ontslae kan raak

Belinda ·

Moet nie julle wapens oorhandig nie… julle het gesien wat het gebeur met die onluste. Polisie is te min om skares te hanteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.