Nog niemand aangekla oor ‘kinderarbeid’ in Vrystaat

Argieffoto

Niemand is nog aangekla nadat bewerings aan die lig gekom het dat minderjariges na bewering as seisoenwerkers op plase in die Vrystaat gebruik word nie.

Maroela Media het vroeër berig die departement van arbeid in samewerking met die departement van maatskaplike ontwikkeling het op plase buite Wesselsbron en Allanridge toegeslaan en 23 kinders verwyder wat beweer hulle word as seisoenwerkers op plase in die omgewing gebruik.

Die man teen wie die bewerings gemaak word, is ʼn arbeidsmakelaar wat op ʼn plaas in die Wesselsbron-distrik woon. Die departement van arbeid het vroeër verkeerdelik gesê die man is ʼn boer, maar het in hul mees onlangse verklaring oor die saak bevestig hy werk as arbeidsmakelaar.

Verskeie ander bewerings word ook teen die man gemaak, onder meer dat hy die werkers vrot vleis gegee het om te eet en hulle minder as die minimum loon betaal. Daar word ook beweer dat sommige werkers in plastiektente gehuisves is.

Die Valke is tans besig om voorlopige klagtes van kinderarbeid en mensehandel te ondersoek. Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, het Dinsdag aan Maroela Media gesê niemand is nog aangekla in verband met die saak nie. “Die ondersoekspan sal nadat hulle die nodige verklarings afgeneem het die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys vir hul insette. Hulle behoort voor die einde van die week ʼn besluit te neem,” het Mulaudzi gesê.

Intussen is nóg beweerde kinderarbeiders deur die departement van arbeid van plase in die gebied verwyder. Nomfundo Douw-Jack, hoof van die departement van arbeid in die Vrystaat, het Sondag in ʼn verklaring gesê altesaam 53 kinders is intussen van plase in die distrik verwyder.

“Om so baie minderjarige kinders [as arbeiders] te vind, is ondenkbaar en word ten sterkste veroordeel. Ons het drie verskillende sake van kinderarbeid teen werkgewers aanhangig gemaak by die SAPD,” het Douw-Jack gesê. Sy het gesê arbeidsinspekteurs sal vandeesweek plase in die Lejweleputswa-distrik besoek om seker te maak dat arbeidswette nie op een van hierdie eiendomme oortree word nie.

Intussen is die saak ook Dinsdag onder LP’s se aandag gebring toe Mandla Rayi, voorsitter van die komitee oor ekonomiese en sakeontwikkeling, die bewerings teen sterkste veroordeel het. African News Agency berig Rayi het gesê die komitee wat binnekort ʼn oorsigbesoek aan die Vrystaat gaan bring, sal die saak met die departement van arbeid opneem.

“Die departement moet die komitee inlig oor wat die arbeidsinspekteurs gevind het en wat hulle beplan om te doen,” het Rayi gesê.

Die arbeidsmakelaar se regsverteenwoordiger het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy het verlede week met verteenwoordigers van die departement van arbeid vergader en sal Woensdag ʼn volle konsultasie met sy kliënt hê, aangesien hy nog op dokumentasie van die departement gewag het. “Ons sal daarna in ʼn beter posisie wees om kommentaar te lewer,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Vul jou kommentaar aan deur verwysings na beskuldigings te doen.

Luke ·

Die media lewer lank nie meer nuus nie, die media vervaardig die nuus. Wereld wyd is dit die geval.

SjN ·

Volgens my was die vrot vleis afkomstig van die leeuhokke wat skoon gemaak is, feite moet eers gekry word voor uitlatings gemaak word.

Nic ·

Sal MM ons assseblief op hoogte hou ? Wat is die naam van die “arbeidsmakelaar”? Ek sou ook graag die SABC se regstelling wou sien, nadat dit beweer is dat dit ‘n boer was wat die mense so haglik gehuisves en betaal is.
Ek sou ook graag wou hoor wat geword het van die storie van die huiswerker wat wat glo deur haar werkgewer aan die motorhek vasgeketting was.
Ook van die storie van die onlangse protesaksies in die Mooinooi omgewing – die rede: daar is beweer dat ‘n boer ‘n man geskiet het wat lemoene gesteel het en hom toe vir die krokodille op sy plaas gevoer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.