Nog niemand vas ná Jhb-skietery waarin 3 sterf

Skietery by Wanderers-taxistaanplek in Joubert Park, Johannesburg (Foto: Netcare 911)

Die polisie in Gauteng het Donderdag gesê sy aanvanklike leidrade in die ondersoek na die skietery by ʼn Johannesburgse taxistaanplek wat verlede maand drie lewens geëis het, het nié tot inhegtenisnemings gelei nie.

Dit volg nadat die polisie vroeër gesê het hy is op die spoor van ʼn verdagte wat einde Maartmaand “sonder om ʼn woord te sê” by die Wanderers-taxistaanplek in Joubert Park losgebrand het. Twee van die mense wat dood is, is taxi-eienaars. Die derde slagoffer is nog nie uitgeken nie. Twee ander, nóg ʼn taxi-eienaar en ʼn straatverkoper, is in die voorval beseer.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê hoewel die polisie in dié stadium geen verdere leidrade het nie, sluit hy nie die moontlikheid uit dat die voorval verband hou met voortslepende taxigeweld in die provinsie nie.

“Die polisie ondersoek steeds die voorval,” het hy gesê. “Ons het sedertdien polisiesigbaarheid by die taxistaanplek en in die omgewing van Wanderersstraat verhoog. Daar word vermoed dat die verdagte ʼn pistool gebruik het om op die slagoffers los te brand en nié ʼn geweer nie.”

Theo Malele, woordvoerder van die Nasionale Taxi-alliansie (NTA), het gesê die organisasie is geskok oor die wreedaardige moorde op onskuldige mense van wie sommige lede van die alliansie en een oorledene ʼn NTA-leier is.

Malele meen dié voorval is juis waarom die organisasie vroeër ʼn beroep op die polisie gedoen het om polisiesigbaarheid in die gebied te verhoog. Die enigste manier om dié voorvalle te verminder, is om “na die oplossings te luister wat die NTA in sy veldtogte vir veiliger taxibedrywighede voorstel”.

“Ons veroordeel hierdie geweld ten sterkste,” het Malele gesê. “Die toekoms van die taxibedryf word bedreig deur diegene wat mense afmaai omdat hulle nie konflik kan oplos nie of gedryf word deur gierigheid.”

Die polisie ondersoek drie aanklagte van moord en twee van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duitser ·

Met die mense wat die sapd het is dit n wonder as hulle n skof ordentlik kan deurmaak wat nog van n ondersoek waar leidrade opgevolg moet word om kriminele te vang????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.