Ao. James Findlay, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie is steeds druk besig met die ondersoek na die moord, maar dat niemand al in hegtenis geneem is nie. Die broers is intussen as Imtiaz en Riaz Bellim Abdullah geëien. Imtiaz, wat ook bekend gestaan het as Jakes, het jare lank die fietswinkel Jakes’ Cycle Works besit, het Findlay gesê.
Riaz en Imtiaz is Donderdag in die vroeë oggendure tydens ʼn huisrooftog doodgeskiet. Volgens Findlay was daar vermoedelik ʼn struweling tussen die mans en die rowers en albei is in die bors geskiet. Riaz is op die toneel dood, terwyl Imtiaz na ʼn hospitaal gehaas is waar hy aan sy wonde beswyk het.
Die mans se suster en ma was ook ten tyde van die voorval in die huis, maar hulle is ongedeerd. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug, het Findlay gesê.
Volgens Findlay het die mans deur ʼn veld langs die huis gevlug en speurders het hul spore tot by ʼn teerpad gevolg. “Iemand moes hulle daar opgelaai het of hulle het hul wegkommotor daar gelos,” het hy gesê.
Twee aanklagte van moord en ʼn klag van huisroof word ondersoek.
Our thoughts go out to the family. RIP