Nog niemand vas vir Modimolle-broers se moord

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Niemand is al in hegtenis geneem in verband met die dubbelmoord van die twee sakemanne en broers van Modimolle in Limpopo nie.

Ao. James Findlay, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie is steeds druk besig met die ondersoek na die moord, maar dat niemand al in hegtenis geneem is nie. Die broers is intussen as Imtiaz en Riaz Bellim Abdullah geëien. Imtiaz, wat ook bekend gestaan het as Jakes, het jare lank die fietswinkel Jakes’ Cycle Works besit, het Findlay gesê.

Riaz en Imtiaz is Donderdag in die vroeë oggendure tydens ʼn huisrooftog doodgeskiet. Volgens Findlay was daar vermoedelik ʼn struweling tussen die mans en die rowers en albei is in die bors geskiet. Riaz is op die toneel dood, terwyl Imtiaz na ʼn hospitaal gehaas is waar hy aan sy wonde beswyk het.

Die mans se suster en ma was ook ten tyde van die voorval in die huis, maar hulle is ongedeerd. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug, het Findlay gesê.

Volgens Findlay het die mans deur ʼn veld langs die huis gevlug en speurders het hul spore tot by ʼn teerpad gevolg. “Iemand moes hulle daar opgelaai het of hulle het hul wegkommotor daar gelos,” het hy gesê.

Twee aanklagte van moord en ʼn klag van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.