Nog ontsnapte krokodille ná KZN-vloede gevang

(Foto: Arrive Alive)

Nooddienste het veilig ʼn paar groot krokodille gevang en verskuif wat in die Tongaatrivier beland het.

Start, ʼn niewinsgewende organisasie wat diens aan die gemeenskap lewer, sê die gespesialiseerde Ballito-eenheid is Maandag na Crocodile Creek ontbied.

Die eenheid is versoek om ʼn span van die Crocodile Creek-krokodilplaas by te staan met mannekrag en toegang tot die rivier om groot krokodille aan te keer en veilig te verskuif. Die krokodille het weens die onlangse vloede in KwaZulu-Natal in die Tongaatrivier – wat minder as 1 km van die plaas geleë is – beland en het hul nou tuisgemaak in die riviermond en op die strand.

Die reptiele kom natuurlik voor in die plaaslike rivierstelsels, maar Start sê dié krokodille hou ʼn bedreiging in vir vissermanne en strandgangers in die onmiddellike gebied. Een van die krokodille het onlangs sy weg gevind na die strand voor die Zimbali-landgoed.

Maroela Media het vroeër berig krokodille het uit die Crocodile Creek-krokodilplaas ontsnap. Ezemvelo KZN Wildlife het drie weke gelede reeds 14 krokodille gevang wat ontsnap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.