Nog onweer vir Oos-Kaap voorspel ná storm 6 eis

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ses mense is dood nadat hul huise tydens ’n storm in die Oos-Kaap op hulle ineengestort het. Minstens 19 ander is met beserings in hospitale opgeneem terwyl honderde families sonder enige heenkome gelaat is.

Dít terwyl die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) Maandag ’n waarskuwing vir nog donderstorms in die Oos-Kaap uitgereik het.

Hael, swaar reën en sterk winde word tot vanaand laat vir die reeds geteisterde gebiede sowel as die oostelike dele van die provinsie voorspel.

Die adjunkminister van menslike nedersettings, Pamela Tshwete, het ’n span opdrag gegee om in samewerking met die provinsiale departement van menslike nedersettings dringende verligting aan die slagoffers in verskeie wyke van die Mhlontlo- en King Sabata‑ plaaslike munisipaliteit te bied.

Geraakte huishoudings benodig tydelike skuiling, kos, klere en komberse.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die families van die oorledenes. Die verlies van ’n familielid of geliefdes veroorsaak ’n wond wat lank neem om te genees. Ons is ’n regering wat omgee en alles in ons vermoë sal doen om die gesinne te bereik wat ons nou die nodigste het,” het die adjunkminister Maandag gesê.

Tshwete doen voorts ’n beroep op alle Suid-Afrikaners en sakeondernemings om die regering by te staan in sy pogings om hulp aan die geraakte huishoudings te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

“Ons is ’n regering wat omgee en alles in ons vermoë sal doen om die gesinne te bereik wat ons nou die nodigste het,” het die adjunkminister Maandag gesê.”

wat ‘n grap

Deon ·

n Regering wat werklik omgee se mense sal in die eerste plek nie in huise bly wat deur die wind soos strooi rond gewaai kan word nie.

Insoman ·

Dit is baie snaaks dat besighede ens gevra word om te help terwyl diesellde regering bitter min doen om korrupsie hok te slaan en in die proses meer fondse beskikbaar sal hê om die mense te kan help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.