Nóg paaie, boskampe in wildtuin gesluit

Die Letaba-rivier vloei sterk weens swaar reën. (Foto: SANParke)

Verskeie boskampe en grondpaaie in die Krugerwildtuin is tans gesluit weens swaar reën wat sedert Maandag veral in die verre noorde van die wildtuin uitsak.

Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, sê Dinsdag in ’n verklaring hoewel die ergste reën na verwagting teen Woensdag sal begin opklaar, het die bestuur nietemin besluit om weens veiligsredes verskeie grondpaaie en boskampe te sluit.

Dit sluit die Sirheni-, Bateleur- en Shimuwini-boskamp en die Nyalaland Wildernis-staproete in. Gaste in dié boskampe is reeds na veiliger kampe geskuif.

Alle grondpaaie in die Nxanatseni- (noordelike) streek van die wildtuin van Pafuri tot Letaba sal ook tot verdere kennisgewing gesluit wees met die uitsondering van die Giriyondo-grondpad. Dié pad sal wel fyn gemonitor word.

Riviere in die wildtuin vloei sterk weens swaar reën. (Foto: SANParke)

“Hierdie sluitings is noodsaaklik om besoekers se veiligheid in hierdie tyd te verseker en ons wil gaste aanraai om op die teerpaaie te hou terwyl hulle in die wildtuin ry,” het Thakhuli gesê.

Maroela Media het vroeër berig meer as 100 mm reën het teen vanoggend in talle dele van die wildtuin geval met riviere wat sterk vloei.

Thakhuli versoek besoekers wat navraag wil doen oor die reën om die wildtuin op die noodsentrumnommers by 013 735 0197 of 076 801 9679 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

antieke antie ·

Baie dankie aan ons Grote God!!! ….Hy het noodsaaklike water voorsjen…. nou nog net reen vir die noordkaap en bo-karoo dan is die droogte gebreek…… ek hoop die infrastuktuur is dat die water alles opgevang word en nie verlore gaan nie…. damme in die karoo dat alle oortollige water opgevang word is n droom …

Boertjieman ·

Daar is tans ook ‘n program in die wildtuin om van kunsmatige voorsiening in die natuur ontslae te raak. Baie damme en kunsmatige watergate word tans vernietig want die nuwe bestuurfilesofie is om die natuur sy gang te laat gaan. Hierdie is natuurlik al lank ‘n punt van debat. Die “greenies” het nou die oorhand en dit is dus wat tans, so verneem ek, aan die gang is.
EK glo dat bloot die feit dat enige bewaaringsgebied al reeds by definiesie ‘n “onnatuurlike” inmenging is, verg die gebiede noodwendig onnatuurlike en buitegewone bestuur en inmenging!
EK dink dit is ‘n maklike manier om minder te doen en dan agter “natuurlike” verloop van sake weg te kruip. Luigat geit noem mens dit in die volksmond. Hulle gebruik eerder die begroting om selarise te betaal vir verwaande personeel wat die toeris as ‘n las beskou en jou baie keer ontuis, of soos ‘n indringer laat voel, as om werklik die bewaringsgebied doelgerig en deeglik te versorg en bestuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.