Nóg paaie oop ná Overberg-brand

Spanne van Enviro Wildfire wat na Kleinmond ontbied is, het onder meer gehelp om strukture te beskerm. (Foto: Facebook / Enviro Wildfire)

Die Overstrand- plaaslike munisipaliteit het Dinsdag gesê die brande by Perdeberg in die Wes-Kaap is nou gedeeltelik in bedwang en dat dit geen bedreiging vir Kleinmond en die infrastruktuur inhou nie.

Brandweerspanne is ook in dié gebied ontplooi.

Luidens die munisipaliteit se inskrywing op Facebook is alle paaie in en van Kleinmond na Hermanus nou oop, insluitend die Karwyderskraalpad.

“Spanne het deurnag gewerk om brandpunte te blus en die Arabella- en Karwyderskraal-omgewing af te koel.”

Spanne van Enviro Wildfire wat Maandag na die toneel ontbied is om met brandbestryding te help, was onder meer getaak om strukture te beskerm.

“In totaal is 12 huise van verwoesting gered,” het die organisasie op sy Facebook-blad geskryf. Dit is nie duidelik presies waar dié huise geleë is nie.

Een van die huise wat behulp van Enviro Wildfire gered is. (Foto: Facebook / Enviro Wildfire)

 

Soveel as 27 skilpaaie wat tydens die brand gered is, is intussen veilig hervestig. (Foto: Facebook)

Enviro Wildfire sê hulle sal Saterdag ook ondersoek na die oorsaak van die brand instel.

Intussen is 27 skilpaaie wat tydens die brand gered is, glo ook veilig hervestig.

Foto’s hiervan is op Facebook geplaas en sedertdien meer as 230 keer deur verheugde gebruikers gedeel.

Maroela Media het vroeër berig dat die brand sedert Saterdag tussen die berg en die R44 in die rigting van die Arabella-gholflandgoed woed en ook verby Arabella aan albei kante van die R43 versprei het.

Die brande by Perdeberg in die Wes-Kaap is nou gedeeltelik in bedwang. (Foto: Facebook / Overstrand- plaaslike munisipaliteit.)

Aan die seekant van die R43 het die brand tot by die strandmeer, net verby Rivendell, versprei en aan die landkant van die R43 het die brand verby die Karwyderskraalpad versprei.

Teen Maandag het die brand reeds sowat 3 700 ha verwoes en inwoners het gevrees vir hul huise.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janee ·

Wonderlike nuus oor die skillies!…’n groot druk vir elkeen wat daarvoor verantwoordelik was!

Marius ·

Dankie aan ieder en elkeen wat ‘n bydrae lewer om mens en natuur te red deur die vlamme te blus. Dis mense soos julle wat die lewe die moeite werd maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.