Nóg partye skop teen uitstel van verkiesing

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Die Wes-Kaapse regering en die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag aangedui dat hulle nie ten gunste is van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se aansoek om die munisipale verkiesing van 27 Oktober tot vroeg 2022 uit te stel nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die OVK ’n dringende hofaansoek by die Konstitusionele Hof ingedien het om die verkiesing te midde die Covid-19-pandemie uit te stel. Die aansoek word Vrydag 20 Augustus virtueel deur dié hof aangehoor.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslikeregeringsake, sal namens dié provinsie die aansoek as tiende respondent in die saak teenstaan.

AfriForum is saam met drie ander rolspelers, onder wie die Instituut van Rasseverhoudings (IRV), as vriend van die hof tot die aansoek toegelaat.

Intussen is die DA, ANC, Inkatha Freedom Party, Makanda Independent New Deal, African Transformation Movement en die Forum 4 Service Delivery se aansoeke om by die saak betrokke te raak ook goedgekeur.

Allan Winde, premier van die Wes-Kaap, sê die uitstel van die verkiesing kan ʼn gevaarlike presedent skep waardeur stemreg en ander verwante regte beïnvloed word sonder om die regte konstitusionele proses te volg.

“Ingevolge die Grondwet moet die saak voor die parlement en nié die regbank dien nie.

“Ons moet toesien dat die verkiesing soos beplan voortgaan aangesien dit in die beste belang van ons demokrasie is,” sê Winde.

Bredell sê die hou van gereelde verkiesings is ʼn sleutelkomponent van enige demokrasie en ʼn reg wat beskerm moet word.

“Om ʼn grondwetlike verkiesingsproses teen te gaan, soos die OVK in sy aansoek voorstel, is nie iets wat ons as Wes-Kaapse regering ligtelik kan opneem nie.”

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê daar bestaan geen juridiese of feitegrondslag om die munisipale verkiesing uit te stel nie.

“Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture is dit eens dat die munisipale rade se termyn nie vir ʼn tydperk langer as vyf jaar mag strek nie.

“Die OVK moet daarom binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn ’n verkiesing hou.

“Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar is min (indien enige) beweegruimte vir ’n hof is om ’n uitstel van die verkiesing ná 1 November 2021 te gelas.”

Mostert sê voorts dat Covid-19-modelle ’n aanduiding is dat 27 Oktober in ’n veilige tyd tussen twee infeksievlae van die virus sal val.

“Hoewel daar streng protokol oral in plek moet wees tydens die verkiesing, het die OVK reeds voor oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke se aanbeveling dat die verkiesing uitgestel word, aangedui dat hulle gereed is om die verkiesing op 27 Oktober by 23 000 kiesstasies veilig te laat plaasvind.”

“Dus kan dit dán gehou word, want enige toekomstige datums het ook die potensiaal om problematies te wees weens die pandemie.”

Mostert is van mening dat die bevolking die kans gegun moet word om die samestelling van hul munisipale rade te wysig.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering by AfriForum, sê dit is geen geheim nie dat die toestand van meeste munisipaliteite beroerd is.

“Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag, soos die voriges, toon onrusbarende tendense met min om te vier waar verbetering ter sake is.

“Enkele ekstra skoon oudits kan nie vergoed vir die verskriklike agteruitgang en die feit dat slegs 10% van munisipaliteite skoon oudits ontvang nie. Onreëlmatige besteding is ook steeds baie hoog en daar bestaan ernstige twyfel oor of meer as ’n kwart van munisipaliteite as lopende sake kan bly voortbestaan.”

Dit is om dié rede, sê Brink, dat dit belangrik is dat nuwe munisipale rade so gou as moontlik verkies word en hulle prosessen ie sloer nie.

“Dit is nie toevallig dat die ANC en EFF ook die uitstel steun nie, want hul brouwerk kan hulle stemme kos. Daar moet ook gekeer word dat die regerende party die OVK onbehoorlik beïnvloed en daardeur wetgewing ondermyn. Dit kan ’n gevaarlike presedent skep.”

Die DA het ook verlede week aangedui dat hulle geensins die uitstel van die verkiesing steun nie.

Helen Zille, federale voorsitter van die Demokratiese Alliansie, het tydens ʼn konferensie gewaarsku indien die verkiesing uitgestel word, dit ʼn voorloper kan wees vir die ontrafeling van ons grondwetlike demokrasie.

Zille sê die opstellers van die Grondwet het dit doelbewus uiters moeilik gemaak om die gereeldheid van verkiesings te verander, weens die risiko dat ʼn regerende party moontlik sou kon inmeng met die skedule van verkiesings.

Die DA en die Wes-Kaapse regering is dit eens dat daar slegs een manier is wat die Grondwet gewysig kan word, en dit is deur die vereiste meerderheid in die parlement.

“Geen hof nie, nie eers die konstitusionele hof, het die mag om die Grondwet te wysig of selfs tydelik op te skort nie – weens die oppermag van die Grondwet. Dit beteken dat die metode wat in die Grondwet uiteengesit is, die enigste metode is om dit te doen,” sê Zille.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Net die ANC wat nie wil he die verkiesing moet in October plaasvind nie. Wonder hoekom?

jou gewete

As die vekiesing uitgestel word sal dit baie vinnig die norm word en sal ons 30 jaar diktatuur he

Hennie J

Dit sal insiggewend wees om te sien welke wet die omies en tannies van die grondwethof sal uithaal om te regverdig dat hulle wel die mag het om n parlemtere funksie te verrig en op welke gronde hulle daardie magte aan hulself toedeel. Dat dit wel sal gebeur is verseker want die anc vra dit. Hierdie regsvertolking ruik na die vertolkings wat dali verkondig.