Nóg planne om by lisensiekantore in te gryp

(Argieffoto: Arrive Alive)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Vrydag nog planne bekend gemaak om die las op lisensiekantore te help verlig.

Suid-Afrikaners sit nou reeds maande lank hande in die hare oor onder andere ʼn gebrek aan beskikbare tydgleuwe om hul rybewyse te laat hernieu, of om daarvoor aansoek te doen.

Talle lisensiekantore gaan ook gebuk onder groot korrupsie.

Mbalula sê een van die planne om die situasie te beredder is ʼn verlenging van lisensiekantore se bedryfsure van 08:00 tot 16:00, sowel as op Saterdae, om die agterstand met die verwerking van aansoeke uit te wis. Sommige munisipaliteite het hierdie maatreël reeds ingestel en die minister het ʼn beroep op ander streke gedoen om so gou moontlik dieselfde te doen.

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) moet in samewerking met lisensiëringsowerhede ingryp by die probleme wat ondervind word met beskikbare tydgleuwe deur die aanlynbesprekingstelsel selfs verder uit te brei.

Motoriste kan op dié platform ʼn beskikbare tydgleuf bespreek sonder om na ʼn lisensiekantoor te reis om ʼn afspraak te maak. Die probleem hiermee is dat daar male sonder tal weinig tydgleuwe beskikbaar is.

Mbalula sê korrupsie met die toekenning van tydgleuwe moet ook ondersoek en daadwerklik gepak word.

Die SMS-stelsel wat motoriste waarsku dat hul rybewys gaan verval, moet ook in werking gestel word. Dit sluit in die teiken van nagenoeg 900 000 motoriste wie se rybewyse reeds verval het en nog nie weer hernieu is nie.

Volgens Mbalula gaan die inwerkingstelling van aanlyn betalings ook versnel word om die gebruik van kontant tot die minimum te beperk en korrupsie te verminder. Bestaande lisensiekantore gaan opgeknap word en die open van verskeie nuwe sentrums word beplan.

Daar is ook planne om oogtoetse aanlyn op die eNatis-stelsel te laai en die aflewering van rybewyse om die getal mense by lisensiekantore te verminder, is in die vooruitsig.

Mbalula sê die ingrypings sal versterk word deur die inwerkingstelling van ʼn nuwe lisensiekaart met verbeterde veiligheidskenmerke om bedrog en korrupsie uit die weg te ruim.

“Ons is glad nie onder die indruk dat die aanlyn dienste ʼn wondermiddel vir al ons uitdagings is nie, maar die dienste gaan die speelveld verander met betrekking tot dienslewering by lisensiekantore.”

Mbalula het ook onderneem dat die ingryping gereeld geëvalueer sal word.

“Ons moet aanhou werk om korrupsie by lisensiekantore te pak en uit te skakel en moet daarop konsentreer om ʼn doeltreffende diens aan mense te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Spyker ·

Ek sien nie lig nie en intussen verloor die ekononie elke dag duisende ure aan produksie

Anel ·

Keer terug na die ou stelsel. As jy jou lisensie gekry het, is hy lewenslank geldig, tensy jy oortreding begaan. Dan stop die lang toue, korrupsie met hernuwing en spaar geld.

Karina ·

Anel jou lisensie self verval nie, die kaart verval. Daar was vele berigte in verskeie koerante hieroor. Vind maar uit of dit waar is.

Morne ·

Hoekom nog planne?? Hoekom nie die regte planne die eerste keer instel nie??

jzjz05 ·

Ooral word daar altyd verwys na korrupsie,daar is belykbaar geen regerings departement waar dit nie bestaan nie .Al wat n mens kan dink is aan n onbevoegde Regeering.

Jack ·

Geen woord oor hoe die ootreders van die misdrywe hanteer sal word nie. Dis te moeilik want dit is toegelaat om sover te gaan dat hulle almal sal moet afdank en voor begin. Wat n gemors en intussen moet ons die boetes betaal om die spul aan die gang te hou.

Nie Verbaas ·

ANC het nie die vermoe om regstellende stappe in enige instansie in te stel nie. Snaaks dat alles altyd 100% gewerk het voor hulle aan bewind gekom het.

Boon ·

Min Fikele, al wat jy moet doen is om n hoë profiel inhegtenisname van korrupte kantoor te laat doen , n suksesvolle strafsaak te laat instel, en die skuldiges af te dank as n les aan alle ander. Dis baie maklik.

twaalfboor ·

Sorry MM. My vorig plasing het kru taal bevat. Kom ons probeer weer. “Als waaraan die ANC raak, veranderder in manure”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.