Nóg polisielede ontplooi om xenofobie in KZN te bestry

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Bykomende openbare-orde-polisielede is ontplooi om die plaaslike polisie in KwaZulu-Natal by te staan in die stryd teen xenofobie in die provinsie.

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, het Saterdag ʼn hoëvlak-afvaardiging vergesel wat verskeie kampe rondom Durban besoek het waar uitlanders onder polisiebewaking bly. “Die polisie op die grondvlak werk baie hard om hierdie gewelddadige situasie te stabiliseer,” het sy gesê. “Misdadigers het voordeel getrek uit die situasie en teister gemeenskappe en die polisie is toegewyd om die betrokke persone in hegtenis te neem. Ons het die opstokers geïdentifiseer en ons is besig met die inhegtenisnemings.”

Die xenofobiese aanvalle het op 25 Maart in Isipingo begin en het intussen na ander gebiede rondom Durban, insluitend Chatsworth en Umlazi uitgebrei.

Maroela Media het vroeër berig twee mense, vermoedelik Somaliërs, is kritiek beseer toe ʼn petrolbom Vrydag in ʼn winkel in Umlazi gegooi is.

“Ons doen weereens ʼn beroep op mense om nie die reg in eie hande te neem nie en waarsku dat die persone wat die wet oortree, in hegtenis geneem en vervolg sal word,” het Phiyega bygevoeg.

Sy het gesê ʼn aantal kriminele sake is by verskeie polisiestasies in Umlazi en Chatsworth aanhangig gemaak. “Dit sluit sake in van openbare geweld, sakeroof, moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging in. Altesaam 17 persone is reeds in hegtenis geneem in verband met openbare geweld, moord en sakeroof.” Sy het gesê die ondersoekbeamptes sal onverpoosd werk om seker te maak dat die oortreders vervolg word.

“Vier verdagtes het op 9 April 2015 glo ʼn winkel in Umlazi beroof wat aan ʼn uitlander behoort,” het Phiyega gesê. “ʼn Skoot is gevuur en ʼn 24-jarige vrou, ʼn omstander, is getref en sy het later in die hospitaal gesterf. ʼn Uitlander is dadelik in hegtenis geneem en sal aangekla word van moord. Nog winkels is dieselfde aand in Umlazi geplunder en die polisie het ingegryp om sulke misdade te verhoed.”

Sy het gesê ʼn uitlander is ook in Chatsworth in hegtenis geneem op aanklag van moord en het reeds in die Chatsworth-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding tot 14 April.

Bron: Amanda Khoza, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CJAN ·

Wat soek die uitlanders hier? Hulle vat die SA mense se werk af en moet sit en toekyk dat die uitlanders ook nie belasting betaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.