Nog reën, hael dalk vir Gauteng op pad

(Argieffoto: pixabay)

Die koel en nat weerstoestande wat verlede week die sentrale en suidoostelike dele van die land getref het, sal later dié week weer kop uitsteek, met ʼn moontlikheid van haelstorms in sommige gebiede.

Bransby Bulo, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het Maandag aan Maroela Media gesê dele van Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, die Vrystaat en die Oos-Kaap sal vanaf Donderdag ʼn 30%-kans vir reën hê.

“Dié gebiede kan ook laatmiddag donderbuie met sterk wind verwag.”

Bulo het gewaarsku dat inwoners van Gauteng veral waaksaam moet wees, aangesien dele van dié provinsie later die week nog haelstorms kan verwag.

Dele van Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat het verlede week haelstorms en swaar reën gehad.

Talle mense het hulle tot sosiale media gewend om foto’s van die massiewe haelkorrels te deel.

“Ons het ʼn groot haelstorm vanmiddag in Mpumalanga gehad. Die hael was so groot soos duifeiers en het vensters en geute stukkend geslaan,” skryf een gebruiker.

“Ons het ʼn haelstorm in Germiston gehad. Dit het alles platgeslaan, selfs die reënmeter,” het ʼn ander geskryf.

Verskeie ander dele van die land het ook swaar reën gekry wat onder andere paaie en laagliggende brûe oorstroom het.

Die weerdiens het Maandag gemaan dat sekere gebiede in Noordwes en die Vrystaat steeds die gevaar loop om te oorstroom en dat moontlike verkeersonderbrekings op die N3 en N5 Maandag sal voortduur.

Matige temperature

Bulo het gesê ten spyte van die reën sal Gauteng, Noordwes en die Vrystaat nie ʼn merkwaardige daling in temperature sien nie en matige temperature sal ondervind word.

Pretoria sal na verwagting minimum temperature van tussen 12 °C en 15 °C geniet en ʼn maksimum van 28 °C. Potchefstroom kan ʼn minimum van 13 °C en ʼn maksimum van 31 °C verwag en Bloemfontein temperature tussen 5 °C en 31 °C.

Port Elizabeth en Mbombela (Nelspruit) sal egter vir die res van die week koel en nat wees met minimum temperature van tussen 10 °C en 14 °C, wat later sal styg tot onderskeidelik 22 °C en 23 °C.

Volgens Bulo kan dele in KwaZulu-Natal regdeur die week reën verwag, met maksimum temperature wat skaars die lae 20’s haal.

Geen reën word vandeesweek vir die grootste dele van die Wes-Kaap en die Noord-Kaap voorspel nie en warm en sonnige weer word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiptol ·

As die anc kon, het hulle die reën ook geplunder en net wind en hael gelos.

LD ·

Ongelukkig word Limpopo nie eers genoem nie…. ons kry net die wolke en koue wind maar geen reën:(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.