Nóg reën in KZN verwag

Foto: Pixabay

Nog reën word Maandagaand en Dinsdag in KwaZulu-Natal verwag nadat erge storms die afgelope drie dae in die provinsie tot minstens een persoon se dood gelei het.

Nomusa Dube-Ncube, LUR van samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, het gesê inwoners is gewaarsku dat die reën vandag en môre plek-plek tot vloede langs die kus kan lei. Dube-Ncube het gesê opruimingswerk het reeds begin nadat drie dae se swaar reën en stormsterk winde talle “weerverwante voorvalle” reg oor die provinsie veroorsaak het.

In die gebied van die King Cetshwayo-distriksmunispaliteit is een persoon Saterdag dood en nog een gehospitaliseer nadat ʼn boom op kragdrade geval het. Die oorledene is doodgeskok. “Ons rampbestuurspanne is in kontak met die familie om die nodige ondersteuning te bied,” het Dube-Ncube gesê.

In Ugu, eThekwini, Richardsbaai en Ladysmith is skade aan openbare infrastruktuur en private eiendomme aangerig. “Ons interim-evaluerings het aangedui dat huise se dakke afgewaai is en dat daar op plekke bome omgewaai het wat paaie na beskadigde eiendomme en voertuie versper het,” het Dube-Ncube gesê.

Sy het gemeenskappe gewaarsku om baie versigtig te wees, veral mense wat in laagliggende gebiede woon. “Ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om paraat te wees en nie riviere en brûe in laagliggende gebiede oor te steek nie. Ons provinsie het gevalle gesien waar mense en voertuie deur die water meegesleur word terwyl hulle laagliggende brûe probeer oorsteek. Dit lei tot die onnodige verlies van lewens.”

Dube-Ncube het gesê rampbestuurspanne bly steeds op hoë gereedheidgrondslag en skole is ook gewaarsku om die weervoorspelling in ag te neem voordat daar op enige uitstappies vertrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.