Nóg reën kan herstelpogings in KZN hinder

Oorstromings in Tongaat, KZN. (Foto: Twitter / Gift of the Givers)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) het Donderdag gewaarsku dat nóg reën in die vloedgeteisterde KwaZulu-Natal reddings- en herstelpogings kan bemoeilik.

ʼn Geel vlak 4-waarskuwing is vir Vrydag en Saterdag deur die SAW uitgereik terwyl wydverspreide reënval in groot dele van die provinsie voorspel word.

ʼn Kouefront sal ook na verwagting Vrydagmiddag deur KZN beweeg. Sterk winde en donderstorms word verder in sommige dele verwag wat teen Saterdag oor ʼn groter gebied en moontlik swaarder sal voorkom.

Dit sal uiteraard  ʼn verdere negatiewe uitwerking hê op gebiede wat reeds ernstige oorstromings ondervind het, aangesien die grond versadig en dreine verstop is. Rivierbanke het boonop reeds gebars.

 

Maroela Media het vroeër berig dat oorstromings en moddervloede weens aanhoudende reën erge skade aan infrastruktuur en eiendom in die provinsie aangerig het. Meer as 300 mense is al dood.

Verskeie openbare en private dienste is onderbreek terwyl skole noodgedwonge hul deure moes sluit.  ʼn Provinsiale ramptoestand is Woensdag amptelik deur die departement van samewerkende regering afgekondig.

Nóg reën kan nou die talle opruimingsoperasies en voortdurende reddingspogings in die wiele ry.

Die SAW voorspel dat reën na verwagting van Woensdag af sal opklaar.

Organisasie pleit om hulp vir gemeenskappe

Die liefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers het intussen ʼn beroep op die nasionale en internasionale gemeenskap gedoen om gemeenskappe by te staan.

Die organisasie sê hy is oorval met oproepe van mense wat dringend hulp benodig, asook sakeondernemings wat hulp aan geteisterde gemeenskappe wil verleen.

In die lig hiervan het Gift of the Givers ʼn geldinsamelingsinisiatief op Back a Buddy van stapel gestuur.

“Met al ons probleme, wrywings en uitdagings is dit inderdaad ʼn ongelooflike land dié waar die gees van ubuntu altyd heers. Ons spanne is besig met ter plaatse assesserings om gebiede met ernstige skade te identifiseer en om duplisering te vermy,” het dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, gesê.

Volgens hom sal geld wat ingesamel word onder meer vir warm etes, komberse, gebottelde water, warm klere, sanitêre doekies en doeke gebruik word. “Namate die behoefte ontstaan, sal geld ook gebruik word om gemeenskappe van kospakkies, skooldrag, skryfbehoeftes en boumateriaal te voorsien om beskadigde skoolinfrastruktuur te help herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.