Ivan Pillay, voormalige waarnemende SAID-kommissaris, en Peter Richer, ʼn voormalige SAID uitvoerende hoof van strategie, risiko en beplanning, het in ʼn gesamentlike verklaring gesê Nhleko se uitsprake is ʼn “skending van hul regte tot waardigheid en ’n goeie naam”.
“Ons het geen ander keuse as om regsadvies in te win en die nodige stappe te doen om ons te verdedig nie. Tot dusver het al die ondersoeke wat deur SAID en ander staatsinstansies teen ons ingestel is, ons nie die regverdige geleentheid gebied om ons kant van die storie te stel nie,” het die verklaring gelui.
Pillay en Richer het in Mei verlede jaar bedank nadat SAID dissiplinêre stappe teen hulle ingestel het na aanleiding van ʼn verslag van ʼn ondersoekpaneel wat gesê het die vorming van die “rogue unit” moet deur die polisie ondersoek word en mense daarby betrokke moet strafregtelik vervolg word.
Nhleko het verslaggewers Woensdag ingelig oor die vordering van die ondersoek en gesê die Valke se ondersoek spruit uit verskeie verslae wat van SAID ontvang is dat hulle “prima facie-bewyse het” dat die geheime eenheid hul regte oortree het. Die eenheid het glo aksies onderneem wat net die land se intelligensieagentskap gemagtig is om te doen, agente gewerf in teenstelling met SAID se mensehulpbronne-beleid en deur hul optrede skade aan die goeie naam van die belastingdiens gedoen.
Richer en Pillay ontken die bewerings. “Bewerings dat die ondersoekeenhede van die SAID onwettig was, frontmaatskappye bestuur het, waaronder ʼn bordeel, op pres. Jacob Zuma ingeluister het, op belastingbetalers gespioeneer het, onwettige skikkings aangegaan het oor belastinggeskille en in mense se huise ingebreek en afluister-apparate geplant het, is vals en ongegrond,” het Richer en Pillay gesê.
Die twee het volgehou dat die ondersoekeenhede by SAID op ʼn wettige wyse op die been gebring is en “prysenswaardige werk” gedoen het om onwettige aktiwiteite stop te sit.
Intussen het Johann van Loggerenberg, die voormalige hoof van die sogenaamde “rogue unit”, ook ʼn verklaring uitgereik waarin hy bewerings dat die eenheid onregmatig op die been gebring is, ontken.
“Ek ontken dat ek al ooit die wet oortree of enigiets onwettigs gedoen het terwyl ek ʼn SAID-bestuurder was. Ek ontken spesifiek dat die SAID-eenhede waarvan ek ʼn bestuurder was sedert Maart 2008 onwettig op die been gebring is of ooit aan enige onwettige aktiwiteite deelgeneem het,” het hy gesê. Van Loggerenberg het ook gesê dat hy regsadvies sal inwin ná Nhleko se uitsprake.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
SAID- van die mees doeltreffende en gerekspekteerde staatsdepartement na die muishond van departemente in minder as 3 jaar. Veels geluk aan diegene wat hiervoor verantwoordelik is. Julle bewys net weereens dat die ANC-regering nie graag wil hê dat die staatsdiens doeltreffend funksioneer nie. Wat die rede hiervoor is, weet net hulle.
Hoe wil dit vir my voorkom asof sommige mense in die regering nie wil he daar moet ‘n tak in die SAID wees wat hulle sake dalk kan bekyk nie. Hulleself is dan sulke eerbare mense wat mos niks verkeerd doen nie. Ek hoor op TV praat hulle van mekaar as “the Honourable”. Ek ruik n rot.
Veritas. Dis n hekse jag want die plaat raak nou vinnig warm onder sommiges, en benoude katte maak tans baie benoude spronge. Ek glo dit is n netelige kwessie wat aan die eenkant moontlik skade aan die land se ekonomie kan veroorsaak. Ek dink die anderkant van die munt weeg egter swaarder, iemand doen alles in n vermoe om te keer vir hulle “wickets” Jy kan maar raai, en jy sal 99,9% reg wees. Snaaks dat alles na Pravin Gordhan se aanstellig begin het??
Oo ja, En so terloops. Die ter saaklikes lees ook hierdie kommentare op Maroela.
Voor 1994 het ons nooit met al die probleme gesit nie!!!!!