Nog renosters gestroop ná mans borgtog kry

renosters-witrenoster

Argieffoto (Foto: Casey Allen/Pexels)

Twee mans het in 2018 ʼn renoster in die Krugerwildtuin gestroop, skaars ʼn jaar nadat hulle op borgtog vrygelaat is op aanklagte van ʼn stropingsvoorval in 2017.

Isaac Zitha (41), Richard Mkhombo (39) en Oscar Ndlovu (38) is in 2017 in hegtenis geneem vir ʼn stropingsvoorval wat in die Stolsnek-omgewing van die wildtuin plaasgevind het. In 2018, nadat die drie op borgtog vrygelaat is, is nóg ʼn renoster in die Kingfisherspruit-omgewing gestroop. Zitha en Ndlovu is later in verband met dié voorval in hegtenis geneem. Mkhombo word nie by die tweede stroping betrek nie.

Die drie mans is deur die Skukuza-streekhof skuldig bevind op twaalf aanklagte wat verband hou met renosterstropery en Dinsdag ʼn gesamentlike vonnis van 63 jaar opgelê.

Isaac Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, sê wildbewaarders was met die eerste stropingsvoorval kort op die beskuldigdes se hakke nadat hulle geweerskote in die gebied gehoor het.

“Bewaarders het Ndlovu in die veld aangetref waar hy weggekruip het en hy is dadelik in hegtenis geneem,” sê Phaahla.

“Die wildbewaarders het lede van die honde-eenheid ontbied wat eindelik daarin geslaag het om ʼn rugsak, Mkhombo en twee ander verdagtes op te spoor – Isaac en Given Zitha. Die rugsak het ʼn renosterhoring en ʼn vuurwapen bevat wat later positief verbind is met ʼn naburige karkas.”

Nadat die verdagtes in die hof verskyn het, is hulle op borgtog vrygelaat, maar Given Zitha het gevlug en word steeds deur die polisie gesoek om verhoor te word.

Wildbewaarders het in 2018 menslike spore gevolg, wat hulle na die grens van die Manyeleti-wildreservaat gelei het, waar Ndlovu in hegtenis geneem is.

“Die honde-eenheid is weereens ontbied en die span is na Isaac gelei en ʼn rugsak is later met ʼn renosterhoring gevind. ʼn Renosterkarkas is ook naby aangetref.”

Vir die stropingsvoorval in 2017 is al drie beskuldigdes drie jaar opgelê vir onwettige betreding, ses jaar vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen, twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie, tien jaar vir die stroping van ʼn bedreigde spesie en een jaar vir die besit van ʼn byl. ʼn Paar van hierdie vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Isaac en Ndlovu is vir die voorval in 2018 ses jaar opgelê vir onwettige betreding, ses jaar vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen, vyf jaar vir die besit van ʼn vuurwapen met die doel om ʼn misdaad te pleeg, vyf jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is, twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie, tien jaar vir die stroping van ʼn bedreigde spesie en tien jaar vir die stroping van ʼn renoster.

Gareth Coleman, uitvoerende beampte van die Krugerwildtuin, het gesê die vonnis is ʼn verdere bewys dat samewerking tussen verskillende eenhede aan kriminele sake wel vrugte afwerp en ʼn sterk boodskap aan misdadigers stuur.

“Die vervolgingspan het ʼn sterk argument namens ons gemaak vir streng vonnisse en ons is verheug oor die uitkoms van die saak,” sê Coleman.

“Ons hoop dat die laaste verdagte ook binnekort aangekeer en verhoor sal word.”

Nog ʼn man is vroeër vandeesweek in die Skukuza-streekhof gevonnis nadat hy in 2020 die Krugerwildtuin betree het met die doel om wilde diere te stroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Waarnemer ·

En nou gaan hulle weer n week vrygelaat word of “ontsnap” soos die gesegde deesdae is en dan gaan skiet hulle maar weer n renoster.

SomeOne ·

kriminele sake wel vrugte afwerp en ʼn sterk boodskap aan misdadigers stuur,
kry borgtog, en kort daarna gaan hulle aan asof niks verkeerd is nie,
waar is die STERK BOODSKAP wat uitgestuur is ??????

KB ·

Die Dept. van Korrektiewe Dienste en die SA Regsstelsel (howe ingesluit), verstaan nie Afrika en borgtog nie. Geen regdenkende mens kan hierdie kriminele ʼn opsie van borgtog gee nie. Hoe onnosel moet hulle nie wees nie…genade!

Barend ·

Nou is ek bekommerd. ‘n Jaar vir die besit vir die besit van ‘n byl? Is daar dalk ‘n amnestie periode om dit by die Polisie in te handig? Vra namens ‘n vriend.

Casper ·

Dit is so veragtelik en vernederend as gesê word dit sal ‘n sterk boodskap uitstuur.As dit ‘n sterk boodskap uitstuur hoekom is daar dan nog renosterstropery,moord kapings,en ander misdrywe.Gareth as jy iets wil word word groot.

Christine ·

Kriminele verstaan slegs een boodskap: doen aan hulle, wat hulle aan ander doen. Dis al hoe die misdaad bekamp gaan word.

Di ·

Hierdie skuim sal nooit verander nie – DIE tipe moet permanent agter tralies gehou word

Frederik C ·

Mense is geneig om te sê dat die polisie hopeloos is, maar die probleem lê by die howe. Diewe, verkragters ens, met skedule 6 klagtes teen hulle, word deur die howe op borgtog vrygelaat. Moet die polisie-lid, wat waarskynlik nagte deurgewerk het om die crook gevang te kry, nou verdere belangstelling toon in sy beroep ??? Verlede week is ‘n 6 jarige dogtertjie vermoor. Een van die verdagtes in die saak is ‘n verkragter wat op borgtog was. Die lid, wat hom aanvanklik arresteer het, gaan beslis nie nou in die saak belangstel nie, want hy sien mos hoe word sy harde werk ongedaan gemaak deur die howe. Selfs regters kan omgekoop word………….veral in SA.

Niklaas ·

Solank as wat die verblyf in die SA gevangenisse taamlik gerieflik is, sal tronkstraf vonnisse nie dien as afskrikmiddel vir misdadigers nie. Maak die tydperk daar gespandeer sinoniem met swaarkry en dit kan meebring dat heelwat minder misdade gepleeg sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.