Nog SA lughawens heropen  

Minister Fikile Mbalula. (Foto: Twitter)

Nog sewe Suid-Afrikaanse lughawens sal Woensdag heropen terwyl alle internasionale passasiersvlugte steeds verbied word.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, kan wel sekere internasionale passasiersvlugte magtig.

Mbalula het Maandag aangekondig die Bram Fischer-, Kruger Mpumalanga-, Pietermaritzburg-, Port Elizabeth-, Richardsbaai-, Skukuza- en Upington-lughawe sal op 1 Julie heropen.

Die Kaapstadse lughawe, die King Shaka-lughawe, die OR Tambo-lughawe en die Lanseria-lughawe is reeds op 1 Junie vir lugverkeer oopgestel. Kommersiële binnelandse vlugte word egter net vir sake- en ander noodsaaklike doeleindes en nie vir toerisme of ontspanning toegelaat nie.

Volgens Mbalula sal die heropening van nog lughawens uiteraard tot gevolg hê dat daar meer passasiers by lughawens byeenkom en is daar om dié rede maatreëls getref om te verseker dat passasiers voorberei word ten einde opeenhoping by veral veiligheidskontrolepunte te voorkom.

Passasiers word onder meer versoek om minstens twee uur voor hul vlug by lughawens aan te kom ten einde genoeg tyd toe te laat vir bespreking om verwerk te word en vir siftingstoetse vir die koronavirus. Daar is intussen ook besluit om etes op vlugte weer toe te laat. Die etes sal reeds by passasiers se sitplekke geplaas word voordat hulle aan boord van die vliegtuig kom.

Van 1 Julie sal lugaktiwiteite vir onder meer landboubespuiting, uitdunning, konstruksie, soek-en-redding, valskermspring, lugopnames en brandbestryding ook hervat kan word.

Lugvaart word ook toegelaat vir streeksherposisioneringsvlugte vir alle Suid-Afrikaanse en geregistreerde buitelandse vliegtuie in en van Suid-Afrika na onderhoud en herstelwerk of om kontrakwerk in Suid-Afrika of buitelandse lande in die streek voort te sit.

Die internasionale vervoer van lugvaarttegnici, werktuigkundiges en ingenieurs vir noodsaaklike ondersteuning en hulp aan vliegtuie, word ook toegelaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Hoekom het die taxis geld gekry geduurende Covid-19, en die lugredery’s niks nie. Het hulle nie ook skade geloop nie?

Niklaas ·

Natuurlik gaan duisende toeriste met fantastiese werks redes die vliegtuie bestyg en die land vol vlieg.
Dis in sulke tye van krises dat vindingryke planne gesmee word om by bestemmings aan te kom. Om ‘n skuiwergat te vind sal glad nie moeilik wees nie. En wie sal dit nou nie wil doen nie ?

Arthur ·

Waarom bly George Lughawe gesluit? Inligting wil dit hê dat amptenare “vergeet” het om aansoek te doen om dit te heropen….. daar is klaarblyklik net nie einde aan onbeholpenheid, onbekwaamheid en oneffektiwiteit nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.