Nóg SA’ners gestrand weens verwarring by lugrederye

OR Tambo- internasionale lughawe (Foto: ANA/verskaf)

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die departemente van vervoer en internasionale betrekkinge en samewerking om dringend met internasionale lugdienste kontak te maak oor vlugte na Suid-Afrika te midde van die afsonderingsperiode.

Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge, het gesê sy party ontvang navrae van Suid-Afrikaners wêreldwyd wat in lughawens gestrand gelaat is omdat lugdienste glo in kennis gestel is dat lughawens in Suid-Afrika reeds gesluit is – ondanks die feit dat die algehele landswye afsondering eers vanaand om middernag in werking tree.

“Suid-Afrikaners wat op ʼn passasiersboot was, is by ʼn lughawe in Rome, Italië, gestrand, saam met passasiers in Doebai, Doha, Maledive, Angola en Heathrow – almal vir dieselfde rede,” het Bergman verduidelik. “Trouens, die enigste twee lugdienste wat klaarblyklik tans nog vlugte na OR Tambo onderneem is Nederland se KLM en Turkish Airlines.”

Bergman het gesê besonderhede moet verskaf word waarom slegs sekere lugrederye toegelaat word terwyl ander hul passasiers meedeel dat hulle nie Suid-Afrika sal kan binnekom nie.

“Dit beteken dat ʼn getal Suid-Afrikaners buite die land gestrand is, terwyl hulle op pad was huis toe ná die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa.”

Volgens ʼn ouer van een van die Suid-Afrikaners wat in Doha gestrand is, het Qatar Airlines passasiers laat weet dat hulle nie na Johannesburg sal kan vlieg nie, omdat die Suid-Afrikaanse minister van vervoer, Fikile Mbalula, aangekondig het dat die lugruim in Johannesburg nou gesluit is.

“Dit is baie jammer dat die president van die land al die regte besluite maak om die kurwe te laat afplat en Covid-19 hok te slaan, maar sy ministers verdraai sy woorde en interpreteer self die boodskap en stel dan sommer vinnig verwarrende riglyne in. Tydens hierdie ongekende periode van onsekerheid moet geen burger alleen voel of voel dat sy regering hom ignoreer nie. Die DA maan dus die ministers van vervoer [Fikile Mbalula] en internasionale betrekkinge en samewerking [Naledi Pandor] om dadelik die situasie reg te stel en seker te maak dat die Suid-Afrikaners wat oorsee gestrand is, kan terugkeer huis toe.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

antieke antie ·

gaan hulle ook na die hotel vir n vakansie of is hulle nie kader maatjies nie

antieke antie ·

ek stem saam…die president en sy ministers en wetstoepassers praat verskillende boodskappe….. gaan kyk hoe loop die mense in die kaap by shopping malls ens ens… die wet vir by die huis word nie nie toegepas nie… en die ministers ondermyn die man…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.