Nóg ses ontsnap in Limpopo

Christopher Langa

Ses verhoorafwagtende gevangenes, tussen die ouderdomme van 21 en 27, het Saterdag uit aanhouding by die Tinmyn-polisieselle, buite Mokopane in Limpopo, ontsnap. Dit is die vierde ontsnapping binne drie maande wat in dié provinsie plaasvind.

ʼn Taakspan is deur lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, saamgestel om ʼn deurdringende ondersoek te doen na die ontsnappings in aanhouding in Limpopo.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig dat vier verhoorafwagtende gevangenes by die aanhoudingselle in Hoedspruit ontsnap het. Die polisie het toe in ʼn verklaring gewaarsku dat die verdagtes “baie gevaarlik” is en dat mense nie moet probeer om hulle self vas te trek indien hulle gewaar word nie.

Dié verdagtes is steeds soek en staan op aanklagtes van huis- en sakeroof, moord en verkragting tereg.

Verlede maand het nog vyf mans uit polisieselle in Witpoort buite Lephalale in Limpopo ontsnap. Drie van die verdagtes is intussen weer deur die gemeenskap vasgetrek.

In September het Maroela Media berig dat 12 verhoorafwagtendes uit die aanhoudingselle by die Seshego-polisiestasie, ook in die provinsie, ontsnap het. Slegs twee van dié verdagtes is weer aangekeer.

In die jongste voorval het Christopher Langa (22), Tshurai Fabiano (22), Mahlatsi Setumula (21), Awanda Goandepi (21), Victor Dube (31) en Simbarashe Ngwenzi (27) ontsnap. Die verdagtes is op verskeie klagtes, insluitend huisroof, diefstal, verkragting, aanranding en onwettige immigrasie, in hegtenis geneem.

Ledwaba het in ʼn verklaring gesê genl.maj. Samuel Manala staan aan die stuur van die ondersoek en dat die taakspan noukeurig sal kyk na die omstandighede wat gelei het tot die ontsnappings. Die span sal ook ondersoek instel na die stappe wat gedoen is aangaande die aanhouding van die verdagtes.

“Enige polisielid wat daaraan skuldig bevind word dat hul optrede tot die ontsnappings gelei het, sal vervolg word,” lui die verklaring.

Die polisie het lede van die gemeenskap gevra om met die polisie te skakel indien hulle enige inligting het oor waar die verdagtes hulle moontlik bevind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet parys ·

Patetiese polisie wonder hoeveel hulle betaal het om sogenaamd te ontsnap.

B K Bo-tha ·

Waarom is die ander nie gepas uitgerus nie? Alles is ag geneem is ons almal mos een nasie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.