Nog ses renosterstropers in Limpopo vasgetrek

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Ses vermeende renosterstropers is oor die naweek in Limpopo in hegtenis geneem, wat die totale inhegtenisnemings die afgelope week op 14 te staan bring.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê twee verdagtes is in die Gravelotte-omgewing in hegtenis geneem nadat plaaswerkers verdagte spore opgemerk het. “Die verdagtes is vir ʼn paar ure agtervolg totdat die spore verdwyn het,” het Otto gesê. “Een van die boere in die omgewing het die soektog met sy privaat helikopter bygestaan en die verdagtes is kort daarna opgespoor toe hulle probeer het om te vlug.”

Die polisie het twee mans in hegtenis geneem. Een van die verdagtes kon daarin slaag om te ontsnap. “Die polisie het beslag gelê op twee selfone en gif. Die soektog na die derde verdagte, sowel as vuurwapens en ander toerusting wat in renosterstropery gebruik word, duur voort,” het Otto gesê.

Die verdagtes moet Dinsdag in die Phalaborwa-landdroshof verskyn op aanklagte van oortreding en sameswering om renosterstropery te pleeg.

Die ander vier verdagtes is op ʼn wildsplaas in die Cumberland-omgewing vasgetrek. “Die boer het die polisie ontbied nadat hy ook vreemde spore op sy plaas waargeneem het. Die spore is ʼn paar kilometers ver gevolg en die soektog het uiteindelik tot die inhegtenisname van die verdagtes gelei.”

Die polisie het beslag gelê op ʼn jaggeweer, ammunisie, messe, ʼn panga en ʼn voertuig wat die verdagtes gebruik het. Die verdagtes moet Dinsdag in die Thabazimbi-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering om renosterstropery te pleeg, oortreding en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die polisie in Limpopo het Vrydag ook vier vermeende renosterstropers in die Hoedspruit-omgewing in hegtenis geneem. Vier mans is Dinsdag vasgetrek wat glo op pad was om ʼn renoster op ʼn plaas in Lephalale (Ellisras) vir sy horings dood te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Armand ·

Daar lê die probleem
Hulle word vasgetrek
Hulle moet geskiet word
Probleme sal spoedig minder word

Paul ·

Die renostermoordenaars moet op sig doodgeskiet word, geen vrae en geen verhoor!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.