Nog ses vas ná groot bankroof

Foto: SAPD/Facebook

Nog ses verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn bankroof in Klerksdorp in Noordwes.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke in die Noordwes, het gesê die ses verdagtes is Sondag in onderskeidelik Klerksdorp en Upington in hegtenis geneem. Twee van die verdagtes is glo werknemers van die bank.

ʼn Nedbank-tak in Klerksdorp is op 11 April 2018 van ongeveer R3 miljoen beroof nadat twee mans wat in SBV-veiligheidsuniforms geklee was die bank binnegegaan het om kontant tydens ʼn “roetinebesoek” op te laai.

Volgens Rikhotso het die Valke reeds begin met ʼn finansiële en batebeslagleggingsondersoek rakende die verdagtes.

“Altesaam agt verdagtes is nou in hegtenis geneem in verband met die voorval. Welcome Marcus (50) en Charles Anthony Scheepers (54) is vroeër vandeesmaand in onderskeidelik Edenvale en Fleurhof in Johannesburg in hegtenis geneem.”

Die verdagtes sal almal Dinsdag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal. Volgens Rikhotso word nog inhegtenisnemings binnekort verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.