Nóg skenkings vir KZN-vloede

Dit sal na raming sowat R5,7 miljard kos om skade aan die padnetwerk in KwaZulu-Natal te herstel. (Foto: Twitter / Fikile Mbalula)

Verskeie organisasies het die afgelope week hul harte oopgemaak om geld en basiese goedere aan slagoffers wat deur die vloede in KwaZulu-Natal geraak is, te skenk.

Solidariteit het Woensdag bekend gemaak dat hy R250 000 aan die Solidariteit Beweging se Krisisfonds gaan skenk om te verseker dat mense wat onder die rampspoedige oorstromings in KwaZulu-Natal deurgeloop het, die hulp ontvang wat hulle benodig.

Solidariteit Helpende Hand het van sy kant af ook R100 000 bygedra vir hulpverlening in KwaZulu-Natal.

Die Dis-Chem-stigting het met die Humanitêre Bemagtigingsfonds in verbinding getree en ook R50 000 geskenk.

Verder het die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) aangekondig dat alle poskantoortakke in Gauteng aangewys is as aflaaipunte vir skenkings aan vloedslagoffers in KwaZulu-Natal.

Luidens ʼn verklaring van Sapo op SAnews.gov is daar 199 poskantoortakke in Gauteng en elkeen is ’n aflaaipunt vir skenkings.

“Die infrastruktuur van die poskantoor maak ons perfek geskik as insamelingspunte,” het Sapo se uitvoerende hoof, Nomkhita Mona, Woensdag in die verklaring gesê.

Skenkingbokse is by alle poskantore in Gauteng geplaas en lede van die publiek word versoek om enige item wat hulle wil skenk, in die bokse te sit.

Die bokse sal verseël word wanneer dit vol is en dan na die verspreidingspunte in KwaZulu-Natal versend word.

Sthe Mabanga, voorsitter van die KwaMashu Sakekamer, het gesê die grootste behoefte is aan blikkieskos, klere, skoene, sanitêre doekies en komberse.

Maroela Media het vroeër berig Hollywood-aktrise Charlize Theron het Dinsdagoggend met ’n Instagram-plasing geldelike ondersteuning aan KwaZulu-Natal se vloedslagoffers beloof. Die begrafnisondernemer Avbob het ook R7 miljoen beskikbaar gestel as onmiddellike ondersteuning aan die gemeenskappe wat deur die vloede geraak is.

Die Chinese ambassade het ook Woensdag ʼn skenking van R1 miljoen aan die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, oorhandig.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is dit van belang dat die onmiddellike nood wat deur hierdie vloed veroorsaak is, aandag kry.

“Dit is egter belangrik dat die drieledigheid van KZN se probleme aandag kry. Dié provinsie is die afgelope jaar swaar getref deur Covid-19, die Junie-onluste en nou die afgelope week se vernietigende oorstromings. Duisende mense is dakloos gelaat, honderde is dood en skade van miljoene rand is aangerig as ʼn direkte gevolg van die swaar reënval en dit is ʼn werklikheid wat mense in die gesig staar,” verduidelik Hermann.

Solidariteit beklemtoon verder dat private ingryping nodig is om te verseker dat mense wel tasbare hulp ontvang.

“Daarom is dit belangrik dat bydraes uit die gemeenskap saam met Solidariteit se bydrae so goed en omvattend as moontlik aangewend word. Om die hulp tasbaar te maak en in die gees van verantwoordbaarheid sal deurlopend terugvoering gegee word oor hoe en in watter vorm die hulp gebied word. Solidariteit is van mening dat hulp uit alle oorde belangrik is en verwelkom word – mits dit deur ʼn entiteit bestuur word wat van die regering verwyder is.

“Dit is wonderlik om te sien hoe mense in ʼn tyd van nood kan saamstaan, en die mense van KwaZulu-Natal het nou al die saamstaan nodig wat hul mede-Suid-Afrikaners kan bied. Die nood wat ontstaan het, is van so ʼn aard dat dit onmiddellike verligting vereis, maar daar moet terselfdertyd daaraan gedink word hoe mense gehelp gaan word om ten spyte van die ramp weer te kan aangaan. Dit is ons fokus om mense nou te help, maar ook om te bly dink oor wat die pad vorentoe inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Termiet

Die poskantoor as versamel punte????? Daar sal nie eers n lee plastieksak van hulle af kom nie. Soos mense daar gaan aflaai gaan dit verdwyn.

Marius

Die poskantoor kan nie eers ‘n brief aflewer nie. Hoe gaan hul die vol bokse aflewer ?

Blomme

ń Edele gebaar van al die skenkers. Net jammer die leiers van hierdie land het mense se vertroue al so geskend dat mense sidder as jy dink dat hulle die skenkings sal bestuur…. Hoop van harte die skenkings beland nie in die aasvoëls se hande nie.

Jacobus

Die regering se “reddingspoging”, laat my dink aan die rondspring van ‘n afkop hoender. Die ouer mense sal nog weet van ‘n afkop hoender!!!

Papsak

Ja baie gaan verdwyn en ander gaan glad nie eers kry nie so jy kan hulle nie vertrou nie