Brandstofverbruikers kan in die nuwe maand ’n verdere styging in die brandstofprys verwag met die prys van diesel, petrol en paraffien wat na alle verwagting gaan toeneem.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê die prys van petrol sal na verwagting met tussen 75 sent en 80 sent per liter styg. Die 95-oktaan-petrol in Gauteng sal gevolglik meer as R25 per liter kos en meer as R24 per liter aan die kus. Dit sal die hoogste sedert Augustus verlede jaar wees.
Gegrond op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds is die verwagting tans dat die prys van diesel met R1,60 per liter gaan styg. Die prys van paraffien sal na verwagting met R1,50 toeneem.
“Soos die geval was met die vorige stygings, is hierdie jongste stygings hoofsaaklik toe te skryf aan stygende internasionale oliepryse. Die swakker wisselkoers teen die Amerikaanse dollar speel ook ’n rol,” sê die AA.
Volgens die AA sal motoriste die prysstyging erg aan hul beursies voel wanneer hulle ’n draai by die vulstasie maak.
“Dit kom op ’n tyd waar die meeste Suid-Afrikaners onder uiterse finansiële druk is. Dit bly egter kommerwekkend dat die regering in die lig van hierdie verhogings stilbly oor sy planne, indien daar enige is, oor ’n pad vorentoe om brandstofprysstygings meer doeltreffend te hanteer.”
Die AA moedig motoriste weereens aan om te verseker dat hul voertuie in ʼn goeie toestand is en optimaal werk om die korrekte hoeveelheid brandstof te gebruik. Om swaar verkeer te vermy en nie jou voertuig te oorlaai nie, sal ook help om brandstofverbruik te verminder, sê die vereniging.
“Soos die einde van die jaar nader kruip, sal baie mense planne maak vir hul jaarlikse Desembervakansie. Deel van daardie beplanning moet insluit om nou behoorlik vir brandstofuitgawes te begroot, vir moontlike brandstofprysstygings wat in November en Desember kan voorkom.”
Kan ons nie maar met Rusland ruilhandel nie……wapens vir olie ;)
Ons sal weer verneuk word. Ons Russiese vriende is te slim vir die kaders.
Lag ek nou lekker
Net so. Watter wapens?
Nee kyk hulle maak ons dood regtig
Die staatskas is leeg geplunder. Belastings en heffings is die hool se voorland . Dis die waarheid.
Hierdie prysstygings en die swaarkry van landsburgers, pla die huidige regime geensins nie.
Die heffing moet kompenseer vir die hoë prys ,die regering kan en moet die heffing afskaf.
Hulle het geld nodig vir diesel om die ligte aan te hou
Ramaphosa en die ANC buig dubbeld agteroor om vir Rusland te wys SA is regtig ‘n vriend van Rusland, maar Rusland help SA absoluut NIKS. Wat van grootskaalse hulp met die Eskom probleem en wat van goedkoper petrol?