Nóg skokonthullings oor Bosasa gehoor

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof van die omstrede fasiliteitebestuursgroep Bosasa. Foto: Itumeleng English/ANA

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof van die omstrede fasiliteitebestuursgroep Bosasa, het Vrydag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping verduidelik hoe ʼn ingewikkelde stelsel by dié maatskappy gewerk het om na bewering geld te “was” en omkooptransaksies te doen deur ʼn reeks fiktiewe maatskappye, kontanttjeks en valse fakture te gebruik om regeringstenders te bekom.

Agrizzi het aan die Zondo-kommissie gesê Bosasa en sy hoofrekenmeester was betrokke by die stigting van klein “armlengte-maatskappye” met ʼn kort lewensduur wat net gebruik is om valse fakture te genereer. Die geld wat Bosasa gebruik het om dié fakture te betaal, sou dan na bewering later terugkeer na die maatskappy se geheime kluise waar die harde kontant gebruik sou word vir omkooptransaksies.

Volgens Agrizzi het die spesiale ondersoekeenheid van dié gebruik bewus geraak en Bosasa het toe ʼn nuwe metode bedink deur fiktiewe werknemers te skep en kontanttjeks aan dié werknemers uit te maak. Agrizzi beweer dit is alles gedoen om die belastingowerhede te omseil.

“Daar was maatskappye wat ons uiteindelik op die been moes bring, moes registreer, die betalings maak en dan weer moes likwideer sodra alles betaal is,” het hy gesê. “Die doel van hierdie maatskappye was basies net om die korrupte betalings te fasiliteer. Daar was ʼn aantal van hierdie maatskappye, maar ek dink ek kan vyf onthou.”

Volgens Agrizzi sou die valse fakture sonder BTW-nommers uitgereik word. “Dit was klein maatskappye, soos Kgetlo Events, wat geen BTW-blootstelling gehad het nie en wanneer ek daaroor navraag gedoen het, is daar vir my gesê dit is sodat die belastingowerhede nie vrae oor hulle sal vra nie.

“Omdat hierdie uitgawes aangeteken is as bedryfsuitgawes, sou hulle winsmarges verdun en enige belasting wat betaal moes word so affekteer. Ek het getel dat meer as R120 miljoen belasting oor ʼn tydperk van nege jaar ontduik is.”

Agrizzi het verduidelik hoe ʼn middelman ʼn sisteem uitgewerk het waardeur Bosasa na bewering aan Jumbo Liquor Wholesalers ʼn groot bedrag geld sou betaal vir ʼn drankbestelling. Minstens ʼn week later sou die middelman presies die bedrag wat Bosasa vir die drank betaal het, terugbring en vir homself tussen 5% en 7,5% vat vir sy moeite.

Bosasa sou na bewering ook die afsterwe van werknemers se naasbestaandes gebruik deur twee tjeks aan hulle uit te maak – een vir die ware voordeel en nog een om omkoopgeld mee te betaal. Agrizzi beweer as ʼn familielid van ʼn Bosasa-werknemer sou sterf, sou die maatskappy ʼn voorskot uitbetaal eerder as om te wag vir die sterftevoordeelpolis, die geld dan van die versekeringsmaatskappy verhaal en dít vir omkoopgeld gebruik.

“As ʼn familielid gesterf het, sou daar twee tjeks uitgemaak word. ʼn Metropolitan-tjek en ʼn kontanttjek. Die kontanttjek sou deur Bosasa uitgemaak word, maar die werknemer sal dit nie ontvang nie. Die tjek was net ʼn manier om kontant af te skryf wat Bosasa vir omkoopgeld gebruik het,” het Agrizzi gesê.

Vroeër het Agrizzi getuig Bosasa het baie gunste vir invloedryke persone gedoen om die maatskappy te help om kontrakte by staatsinstansies te bekom, waaronder vir ʼn beampte van die Lughawensmaatskappy (Acsa).

“Daar was baie voertuigherstelwerk waarvoor een van Bosasa se maatskappye gefaktureer sou word. Mense sou hul voertuie neem na ʼn plek naby ons kantore en ons sou betaal,” het Agrizzi gesê.

“Dit het onder andere vir Reuben Pillay, ʼn sekuriteitskakelbeampte by Acsa, ingesluit. Dit was die vroeë dae toe Bosasa ʼn kontrak gekry het om ʼn parkeerterrein by OR Tambo te beveilig. Pillay was in diens van Acsa én betrokke by dié Bosasa-kontrak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

zandra ·

ek’s verheug in al die skandes wat uitkom en kry
sommer hoop weer!
maar die man gaan nooit ooit weer met albei ogies kan toe slaap
shame

Genieve ·

Wat leer jy jou kinders as jy kinders het???? want jys deel hiervan hoekom het jy nie gepraat toe jy iets agter gekom het nie whooo maar ook bakhand gestaan vir n pennie.

Robert ·

Wurms oral waar jy kyk: lintwurms, haakwurms, ronde wurms, neus wurms ens

Tania ·

Hoekom het SARS nog nooit die mpye geoudit nie, vir BTW en inkomstebelasting bedrog??
SARS sal baie geld hier kan verhaal!!

Geskok ·

Ek is geskok, maar bly oor al die korrupsie wat nou bekend gemaak word!!! My vraag is: wat gaan gebeur aan die einde van al die sittings? Gaan almal vervolg word? Of gaan daar niks van kom nie?

Cherokee ·

Dit is wat ek ook meer as een keer gevra het. Is die ondersoeke bloot ‘n sluier of gaan vervolgings daarop volg? Wat het geword van die R10m wat Molefe binne 10 dae moes terug betaal? Waarom is diè wat R30m vir hòm na minder as 5 jaar se rondsit goedgekeur het, nie ook vervolg nie? Kan Gerrie Nel nie gekloon word nie?

Michael ·

Dan drink almal lekker tee en koek.en jy hoor nooit weer van die spul nie. Ek hulle het sakke vol geld gemaak.

Snowflake ·

Een van die vorige berigte het Sarp 13 jaar vir 4milj gekry….. weereens met alle bewyse in die berig….. is enige van kaders al tronkstraf opgele vir hulle aandeel aan miljoene se bedrog ???? Vra maar net… dis asof jy nie weer lees of hoor van dit nie?? Probeer glad nie voorgee wat Sharp gedoen het dit regverdig nie!!!

Anita ·

Al hierdie verhale kom na vore, die vraag is gaan hierdie mense ooit die binnekant van die tronk sien? Die Zuma reg. het die land tot op die afgrond gebring, en al die skuldiges leef steeds soos vet brommers op die lyke van die gehoorsame landburgers. Eskom bly steeds pryse opstoot waarom lê hulle nie beslag op die eiendomme van die diewe nie en betaal dit terug , maar ons die onsigbare publiek moet gemelk word uit uiers van ‘n koei die in die droogte loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.