Nóg skoolkinders siek van verdagte lekkers

Die lekkers wat glo die skoolkinders siek gemaak het. Foto: Via @Lesufi / Twitter

Die lekkers wat glo die skoolkinders siek gemaak het. Foto: Via @Lesufi / Twitter

Die polisie is op soek na ʼn man wat na bewering lekkers aan kinders by skole in Johannesburg verskaf het wat hulle siek gemaak het.

Maroela Media het vroeër berig nagenoeg 20 leerlinge van ʼn laerskool in The Hills-woonbuurt is Woensdagoggend na hospitale in die stad geneem nadat hulle glo iets verdags geëet het. Paramedici van ER24 is na die skool ontbied nadat die kinders gekla het van maagpyn, naarheid en braking. Hulle is dadelik behandel voordat hulle na die Suid-Rand- en Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem is. Die leerlinge het aan paramedici gesê ʼn onbekende man het glo die vorige dag vir hulle lekkers gegee.

Die Gautengse departement van onderwys het ná die voorval ʼn ondersoek van stapel gestuur. Die departement het gesê twee omliggende skole het intussen soortgelyke voorvalle aangemeld en dat nagenoeg 60 kinders geraak is. Talle leerlinge is Woensdagmiddag reeds ontslaan, maar twee moes die nag in die hospitaal deurbring omdat hulle toestand ernstig was.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Woensdagmiddag van die siek leerlinge in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gaan besoek. Hy het ʼn foto van jellielekkers op sy Twitter-rekening gedeel en ʼn waarskuwing gerig dat dit vermy moet word. Die ondersoek duur voort om te bepaal watter middel in die lekkers is.

Paramedici het ʼn beroep op ouers gedoen om hul kinders te leer om nie lekkers of geskenke van vreemdelinge te aanvaar nie.

Kapt. Kay Makhubele, Gautengse polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. “Ons versoek die publiek om die polisie se Crime Stop by 08600 10111 te bel as hulle verdagte optrede sien,” het Makhubele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fie ·

My kinders is 3 en 4 jaar oud en hul weet dat hul NIKS mag vat by vreemdelinge nie.

Karma1 ·

@Sjoe, ja – selfs in 1980, toe ek nog ‘n klein dogtertjie was, het my ma ons geleer om geensins, óóit enige kos of lekkers by vreemdelinge te neem nie en nooit ooit by enige vreemdeling in ‘n motor te klim nie en as iemand bv. by jou stop en rigting vra of jou lasting val, om te draai en in die teenoorgestelde rigting te hardloop terwyl jy kliphard skree. En dit was toe ons land nog relatief veilig en misdaad vry was.

danie ·

Ok so hoeveel skole is nou betrek , want die een nuus stasie se so en dan se die ander een weer dit, lees ons iewers van die goed of was ons daar.

Ouvrou ·

Foeitog. Dis moontlik arm kinders maar wees gewaarsku dat kinders maar dom kan wees. Ek het my kinders altyd gewaarsku om nie Lekkergoed van vreemde mense te neem nie. Toe ek die kind in gr1 vra wat sal sy doen as ‘n oom sê klim in my kar en wys my waar jou maatjie bly dan gee ek jou lekkers. O sê sy ek sal sê dankie!!!!!

Dorianne ·

Die woonbuurt is Suid Heuwels. Sover ek verstaan is al 3 laerskoole in die area betrokke.

M A ·

Ai tog, my oom was smoorkwaad vir my ma omdat ek nie saam met hom wou ry skooltoe nie. My ma het gesê ons mag nooit in iemand se motor klim nie of eetgoed vat nie. Dit was 1962 en kinders het geluister of die gevolge gedra. Vandag bedel almal maar lekker saam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.