Nog slegte nuus vir Telkom-werknemers

Grafika: businesstech.co.za

Grafika: businesstech.co.za

Die vakbond Solidariteit het Donderdag aangekondig hy wil Telkom se nuutste artikel 197-oodragsproses beveg. Telkom wil 260 werknemers in sy gedeeldedienste-afdeling teen Mei vanjaar na WNS SA, ’n uitkontrakteringsmaatskappy, oorplaas.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van die kommunikasiebedryf by Solidariteit, het Telkom Woensdag op ʼn vergadering tot Solidariteit se skok aangekondig werknemers sal ingevolge ’n tenderproses na WNS oorgeplaas word.

“Solidariteit is geensins te vinde vir Telkom se besluit om werkers na WNS oor te plaas nie. Voormalige Telkom-werkers, wat in Oktober verlede jaar na die maatskappy oorgeplaas is, werk tans in ongunstige en onseker werksomstandighede. Verskeie van die 255 Telkom-werkers wat verlede jaar oorgeplaas is, is ook intussen afgelê,” het Croucamp gesê.

Volgens Croucamp is Solidariteit veral bekommerd dat WNS nie oor die nodige menslikehulpbron-kapasiteit beskik om die bykomende werknemers te akkommodeer nie. “Dit lyk asof WNS nie oor behoorlike strukture beskik om al sy werknemers te ondersteun nie. Weens die vorige oordragproses het verskeie van die maatskappy se menslikehulpbron-funksies byvoorbeeld skeefgeloop, wat onder meer tot gevolg gehad het dat werknemers se oortyd en pensioen laat betaal is. Ons is uiters bekommerd oor die langtermynbehoud van ons lede, wat nou na WNS oorgeplaas word, se werk,” sê Croucamp.

Croucamp het gesê Solidariteit betwyfel voorts die billikheid van die tenderproses wat Telkom tydens die proses gevolg het. “Ons het al die tersaaklike dokumente oor die proses wat Telkom gevolg het, aangevra. Dit sluit ook die aansoeke en inligting van ander bieërs in. Sodra ons deur hierdie inligting gewerk het, sal ons oor ons strategie besluit.”

Telkom het in Februarie vanjaar aangekondig hy beplan om sy werksmag teen die einde van 2016 met sowat 6 000 poste te sny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pappa Beer ·

Net nog n “plan” om van blanke werkers “ontslae” te raak want die regering se “affirmative action” komplot werk nie! Maar ons is mos in n “racial free, democratic, colour-blind, democratic!” Suid Africa! TWAK MAN!

alida ·

Pappa Beerw wat laat jou dink dit is blanke werkers? Sover ek weet is 80% van Telkom se werkers swart. Wat probeer jy sê?

Telkom tegnikus ·

Pesoneel raak so min maar hulle wil nog mense laat gaan

TELEURGESTELD ·

Solank Solidariteit / Sacu & CWU en ander unies beding vir skeidingspakette vir geaffekteerde personeel dan het die mense darem ‘n keuse as om geforseer te word om oor te gaan na ‘n maatskappy waarvoor hulle nie wil werk

Flintstone ·

Waarom lees die opskrif Telkom Werkers?Uit die artikel word afgelei dat dit slegs blanke werkers is wat geaffekteer word,of is my afleiding foutief?Dan moet die korrekte opskrif lui:”Nog slegte nuus vir Blanke Telkom werkers”wat myns insiens meer korrek is.Die media is gou om benadeling teen swart werkers uit te beeld,waarom nie hier in gelyke maat optree nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.