Nóg sneeu, koeler weer verwag

Sneeu in Molteno, Oos-Kaap (Foto: Deon Botha via Storm Report SA Twitter) Maandagoggend

’n Kouefront wat die naweek oor die Atlantiese Oseaan ontstaan het, gaan teen Dinsdag na die noordelike dele van die land beweeg en temperatuurdalings in veral Gauteng veroorsaak. Sneeu en reën word ook vir die hoërliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap verwag.

Bransby Bulo, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW), sê maksimum temperature in Johannesburg, Pretoria en Vereeniging gaan van Dinsdag tot onder 20 ˚C daal. Ligte reënval word ook van Dinsdagaand vir die suidelike dele van Gauteng verwag.

Volgens Bulo het ’n kouefront wat met ysige koue en swaar reën gepaard gegaan het, reeds die naweek die Wes-, Oos-, Noord-Kaap en Vrystaat getref. Koue weerstoestande sal nog tot Donderdag in dié provinsies voortduur.

Ysige weer en ligte sneeu het sedert Saterdagaand die suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap, rondom Sutherland en Calvinia, getref.

Minimum temperature in dele van die Vrystaat het ook tot onder vriespunt gedaal. Bloemfontein en Bethlehem gaan tussen Dinsdag en Donderdag die laagste minimum (-7 ˚C) temperature in die Vrystaat dié week bereik.

Sneeu in Sutherland die afgelope naweek (Foto: Chantel Fourie via Storm Report SA Twitter)

Swaar reën het die naweek die Kaapse metropoolgebied en die suidwestelike dele van die Kaapse Wynlande getref. Die weerdiens waarsku teen die moontlikheid van verdere oorstromings teen Maandagaand in hierdie gebiede terwyl die swaar reënval voortduur.

Die weerdiens waarsku ook teen rowwe seetoestande langs die Suidkus vir Maandagoggend, wat teen die aand ooswaarts in die rigting van Port Edward gaan versprei. Stormsterk wind van 62 tot 80 km/h gaan ook van Maandagmiddag tussen Tafelbaai en Kaap Agulhas in die Wes-Kaap woed. Die wind sal teen die aand na Plettenbergbaai uitbrei en dan teen Dinsdagoggend begin bedaar.

Bulo sê temperature sal na verwagting teen Donderdag weer in die land begin normaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tanneman ·

Dis so koud want die bottelstore se yskaste is weer aangesit :P

Adam Adriaan ·

Ja daar in die Vrystaat en Noord Kaap gaan dit weer tussen man en vrou in die nag ryp, as hulle nie styf teen mekaar lê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.