Nog steeds geen duidelikheid oor welsynsbetalings

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Scopa (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) het gesê hy is besorg oor die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se gereedheid om teen 2018 ʼn nuwe diensverskaffer aan te stel om die betaling van welsynstoelae te behartig.

Scopa, die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling en Sassa het Dinsdagaand vergader oor nakoming met die uitspraak in die konstitusionele hof dat die dienste van Cash Paymaster Services (CPS) uitgefaseer word en ʼn alternatiewe diensverskaffer aangestel word.

Die hoogste hof in die land het vroeër vanjaar uitspraak gelewer oor die aanstelling van ʼn nuwe diensverskaffer om die betaling van welsynstoelaes te behartig nadat CPS se kontrak in Maart tot ʼn einde sou kom. Die konstitusionele hof het die kontrak verleng tot Maart 2018. Dit volg nadat Sassa versuim het om CPS uit te faseer ná ʼn uitspraak in 2014 dat die CPS-kontrak ongeldig was.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, wat in die parlement moes verskyn om vrae te beantwoord, het versuim om op te daag en het aan die parlement gesê sy moes ʼn geleentheid in Durban bywoon.

Sassa se nuwe waarnemende uitvoerende hoof, Pearl Bhengu, het daarna toestemming ontvang om ʼn aanbieding te doen voor Scopa en lede van die portefeuljekomitee. Sassa kon tydens die voorlegging egter nie enige duidelikheid gee oor die gesprekke met die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) nie. Sapo het aangebied om die betalings te behartig. Sassa kon tydens die voorlegging ook nie besonderhede verskaf oor dit wat Sassa en dit wat Sapo doen nie.

Scopa is besorg dat die agentskap onseker is of nie in staat is om ʼn geloofwaardige alternatief tot CPS te vind nie.

Bhengu het aan Scopa gesê sy kan nie besonderhede verskaf nie, omdat die agentskap weer met Sapo moet vergader om die kontrak te bespreek. “Ons onderhandel nog oor die getalle wat betref die R6,4 miljard ontwikkeling van die betaalstelsel.”

Scopa voer aan Sassa sleep voete en het daarop gewys dat daar slegs vyf maande oor is voor die sperdatum van Maart 2018 aanbreek en dat daar steeds geen duidelikheid is oor die pad vorentoe nie.

Bhengu het gesê Sassa is besorg dat Sapo nie oor die nodige betalingstoerusting beskik nie. Sy het gesê die agentskap betaal maandeliks welsynstoelaes ter waarde van R10 miljard en hulle is besorg dat die geld veilig gehou moet word.

“Die bieër moet jaarliks ʼn minimum van 4,2 miljoen kaarte kan verskaf. Sapo kan slegs 10 000 per dag aanbied, dis 2,4 miljoen in ʼn jaar.”

Bhengu het gesê Sapo het ook versuim om bekend te maak wie die kaarte sal verskaf “en dit beteken dat die bekwaamheid van die verskaffer nie geassesseer kan word nie”.

Die Demokratiese Alliansie het intussen gesê hy sal Rosemary Capa, voorsitter van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, skriftelik versoek dat sy minister Dlamini formeel sal dagvaar om in die parlement te verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Dit is so duidelik soos daglig dat Dlamini nie maklik gaan afsien van CPS nie. Skep darem te lekker. Wonder hoeveel dooies, en pensioenarisse wat nooit geleef het nie, ontvang ‘n maandelikse toelae

G ·

Betaal die toelae aan die wat dit nodig het, soos oumense en gestremdes, en vat die toelae weg wat vir die outjies en vroutjies gegee word wat net te lui is om te werk. Dan is daai werkie gou-gou afgehandel. Nog ‘n voordeel- die belasting wat ingevorder word, sal dan sommer ook genoeg wees.

Leahim ·

Duidelik n persoon wat nie bevoeg is om haar werk te doen nie

John ·

Dlamini wag vir haar suster om president te word dan kan sy weer die Grondwethof troef en aanbly by die huidige onwettige spul… wat haar glo goed pas.

Swart Piet ·

Sy sal net van CPS afsien as die volgende verspreider haar meer in haar eie sak bring – totaal onbevoeg. G – die regering sal nie maklik ophou om vir die lui outjies en vroutjies te gee nie, want so is hulle darem verseker van stemme in die volgende verkiesing.

Grassie ·

Die betrokke minister het die afgelope paar jaar die regering sowel as die hooggeregshof gyselaar gehou om te verseker dat CPS die kontrak behou. Sy laat net na om ‘n geskikte (?) ander kontrakteur te kry en wanneer die tyd verstreke is sê sy bloot “behou vir CPS of die mense kry nie hul geld nie.” Zuma beskerm haar want ondanks die feit dat sy totaal onbevoeg is om daardie pos te beklee het hy haar nie tydens sy onlangse kabinetskommeling vervang nie. Ek dink iemand skep diep uit daardie geldkas.

MM ·

Nog een van die mees korrupte mense in sa – as jy nie opdaag vir n hof bevel nie word jy toegesluit – sluit die ding ook toe en gooi die sleutels weg – sy hoort al lankal van haar pos afgedank te wees en aangekla te word van korrupsie – maar nog steeds maak sy en zumpie net wat hulle wil en kom daarmee weg – kom DA stuit hulle asb as dit in julle broeke is om dit te doen – Wys ons wat julle kan doen voor die volgende verkiesing asb – raak van die 2 skelms ontslae op n wetlike manier – GERRIE NEL WAAR IS JY – HELP ASB.

Eish ·

Dié minister is so uit haar diepte uit dat sy nie weet of die Maandag of Dingaansdag is nie.

Alida ·

Hoekom bring die DA en al die ander partye nie ‘n gesamentlike hofaansoek om die skelm vrou uit haar pos te laat verwyder nie. Hulle steel 17 miljoen arm mense se geld. ASB !!! En let wel die meerderheid is hulle eie mense. Die Poskantoor is 100% bevoeg om die taak oor te neem ten aansien van uitbetalings, maar hulle moet genoeg tyd gegee word om die infrastrutuur en admin in orde te kry. Nou doen die vrou net wat sy wil.

Justice ·

Dlamini met ministeriele besluitnemingsmagte is deur die privaat sektor gekaap vir finansiele gewin – ek wonder hoeveel ander korrupte besighede doen dieselfde – dit blyk dat ons probleem wyer uitkring as net die Guptas.

Alida ·

Die HELE parlement moet vervang word. Net ‘n sak vol vrot appels van bo tot onder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.