Nog steeds geen spoor van Cradock-juffrou

Theresa Buys. Foto: Verskaf.

Theresa Buys. Foto: Verskaf.

ʼn Uitgebreide soektog na Theresa Buys van Cradock in die Oos-Kaap het teen Vrydag nog niks opgelewer nie. Die polisie vermoed dié 43-jarige onderwyseres se liggaam is in die Visrivier gestort.

Kapt. Stefanie Smith, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die polisie soek sedert verlede week na haar liggaam naby ʼn laagwaterbrug in die omgewing. Sy het bevestig die soektog is Donderdag uitgebrei. “Die polisie se lugeenheid het Vrydag by die soektog aangesluit,” het sy gesê. “Tot dusver is daar nog geen teken van haar liggaam nie en die soektog duur voort.” Die soek- en reddingspanne het intussen ook by ʼn nabygeleë dam begin soek.

Buys se vermeende moordenaar, Marius Isaacs (25), het die gebied naby die laagwaterbrug aan die polisie uitgewys. Hy het glo tydens ondervraging aan die polisie erken hy het Buys vermoor en haar liggaam daar gestort.

Maroela Media het vroeër berig Buys, wat sedert die begin van die jaar kuns by die Voorbereidingskool Cradock gee, is verlede Maandag laas gesien toe sy die skool verlaat het. Sy woon alleen in ʼn huis op ʼn plaas wat sy by ʼn boer in die omgewing huur.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat haar buurvrou verlede Dinsdagmiddag ʼn plas bloed in Buys se huis opgemerk het. Die Cradock-polisie het Woensdagmiddag Buys se voertuig verlate in die Michausdal-woonbuurt opgespoor. Die polisie het Isaacs kort daarna in hegtenis geneem. Hy is glo ʼn werker op die plaas waar Buys woon.

Isaacs het Vrydag in die Cradock-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord. Die saak is tot 18 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Elmar Heese, die skoolhoof, het aan Maroela Media gesê Buys se familie het versoek dat ʼn troosdiens Maandag vir haar by die skool gehou word, ongeag of haar liggaam gevind word of nie. “Die diens vind Maandag om 10:00 hier by die skool plaas,” het Heese gesê. Len Kok, ʼn geestelike leier, sal die diens waarneem. Almal is welkom om die diens by te woon.

Enigiemand met meer inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, kan die polisie by 048 881 7118 skakel.

Lees ook:
Soektog na vermiste Cradock-juffrou verskerp
Cradock-juffrou steeds vermis; verdagte in hof vir moord
Cradock-juffrou steeds vermis
Cradock-juffrou vermis; polisie ondersoek moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.