Nog steeds lang rye vir paspoorte, ID’s

Argieffoto (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die departement van binnelandse sake om sy afspraakstelsel te herstel.

Die departement het vroeër sy tak-afspraak besprekingstelsel (Babs) bekendgestel, ʼn nuwe afspraakstelsel vir slim ID’s en paspoorte. Dit het ten doel gehad om die lang rye by verskeie kantore van binnelandse sake landswyd te verminder.

“Die DA het die inisiatief ondersteun toe dit in September 2021 aangekondig is, omdat dit iets is wat ons vantevore voorgestel het om die lang rye korter te maak,” sê Angel Khanyile, die DA se skaduminister oor binnelandse sake.

“Ons het ongelukkig verskeie klagtes van lede van die publiek ontvang wat aangemeld het dat die Babs-stelsel ernstige uitdagings beleef, veral in die Wes-Kaap, Mpumalanga en Gauteng. Een van die grootste probleme is dat die publiek steeds in lang rye moet bly staan ondanks die feit dat hulle bevestiging vir hul afsprake ontvang het.”

Khanyile sê dit is presies die teenoorgestelde van wat die Babs-stelsel veronderstel is om te bied.

“Die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, onder leiding van adjunkminister Njabulo Nzuza, het op 30 Maart 2022 ʼn oorsigtelike inspeksie gehou by Menlyn-winkelsentrum, waar ʼn nuwe kantoor pas oopgemaak het. In een geval is ʼn aansoeker, wat ʼn bevestiging ontvang het vir ʼn afspraak om 12:00, twee ure later steeds nie gehelp nie. Hy is aangesê om in die ry te bly wag om hulp te ontvang sodra almal wat voor hom opgedaag het, gehelp is.”

Die DA versoek gevolglik die departement om dié kwessie aan te roer en seker te maak daar is eenvormigheid in al sy kantore wat toegang het tot die Babs-stelsel en opdrag te gee hoe die stelsel moet werk.

“Dit sal seker maak dat aansoekers hul afsprake kan skeduleer en dat hulle nie onnodig tyd hoef te mors om in ʼn ry by binnelandse sake te staan nie. Die DA sal die verwikkelings fyn dophou en sal nie rus totdat die lot van burgers, wat ure lank in rye moet staan, opgelos is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietertjie ·

En hoeveel geld van die belastingbetalers is alweer in die drein af met hierdie stelsel?

muffin ·

daar is bravo mense om te geniet popcorn te maak en vra regering om te sorg. eish

Yolandie ·

Eks het my seun 4 keer gevat om sy ID te gaan haal… Elke dag keer moes hy in die bed lang ry gaan sit en asb dit sy beurt is om in te gaan dán is hulle van lyn af… Hy het party oggende van 6:30 daar gestaan net om weg gewysig te word… Nadat hulle hom laat weet het sy ID kan opgetel word.. Hy mag nie net ingegaar het en hom gaan haal het nie.. Moes tussen al die ander wat daar was vir een of ander rede sit – Richardsbaai

Theresa ·

Yolandie, dis skokkend…geen dienslewering nie, maar hope slim planne maar kan nie tot uitvoer kom nie!

Mercedes0 ·

Ek het van 9 uur tot 15h15 gesit by Richardsbaai en was nog steeds nie gehelp nie. Nou moet ek nog ‘n dag se verlof neem. PATETIES!

Elmarie ·

Ek moet sê nuwe ID en paspoort was tjop-tjop deur Absa gedoen. Toe ons moes gaan optel (mens kry sms) was hul van lyn af maar ons het hul nommer gekry en later gebel en als was reg ons het gaan optel. Ek weet, Eskom veroorsaak baie van die probleme omdat hul van lyn afgaan, maar deur die bank te gebruik was dit maklik en ons het veilig gevoel ook. Kyk watter takke van banke dit doen, jy naak aan lyn ‘n afspraak, kry bevestiging… Nee wat dit was maklik!

Yolandie ·

Net jammer dat dit nie deur al die banke aangebied word nie.

JohanR ·

Ek het my paspoort by Standard Bank in Canal Walk gaan laat doen. Dit was sommer tjoef tjoef. Hoop ek hoef nooit naby binnelandse sake te kom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.