Nóg strafregtelike aanklagte ná Poppie-moord

Poppie van der Merwe.

ʼn Organisasie wat slagoffers van geweld en verkragting ondersteun, het Maandag ʼn strafregtelike saak van kindermishandeling teen sewe mense aanhangig gemaak wat hulle meen medepligtig was aan die moord op die driejarige Poppie van der Merwe.

Regter Bert Bam het Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), Poppie se ma en stiefpa, verlede week in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind op aanklag van moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Die mishandeling het oor ʼn tydperk van September 2015 tot Oktober 2016 gestrek in Orania in die Noord-Kaap en Brits in Noordwes en behels ook ʼn sesjarige seun.

Annari du Plessis, stigter van die Go Purple-stigting, het Maandag aan Maroela Media bevestig dié organisasie het ʼn saak teen sewe mense aanhanging gemaak wat volgens haar geweet het van Poppie se mishandeling, “maar nié genoeg gedoen het om haar uit die omstandighede te bevry en te beskerm nie”.

Sy sê die organisasie het besluit om sy stem dik te maak teen dié “rolspelers” wat deurentyd “nie in Poppie se beste belang opgetree het nie” en “van haar toestand geweet het, maar niks gedoen het om te verhoed dat sy ʼn grusame dood sterf nie”.

“Poppie en die sesjarige seun se gedrag was aanduidend daarvan dat daar ingegryp moes word. Haar en die sesjarige seun se liggame het die omvang van hul aaklige beserings gewys, maar die polisie is slegs betrek nadat Poppie dood op ʼn hospitaaltafel gelê het,” sê sy.

Du Plessis sê dié saak is aanhangig gemaak om diegene wat nie opgetree het teen die “ooglopende mishandeling nie”, verantwoordbaar te hou vir Poppie se dood. “Die mense wat aangekla word, was almal deur hul onderskeie professionele kodes verplig om op te tree, maar hulle het steeds niks gedoen om die kinders by te staan of te beskerm nie.”

Sy meen deur nié op te tree nie, dra die mense ook skuld aan Poppie se dood. “Dis nie ʼn persoonlike saak nie. Genoeg is genoeg – ons kan nie toelaat dat daar nog ʼn Poppie is nie. Ons kan nie toelaat dat kinders mishandel of aangerand word en dan word daar bloot niks daaraan gedoen nie. Dit is onaanvaarbaar. Dit is tyd dat mense optree en besef dat daar gevolge is.”

Sy het gesê die strafregtelike saak van kindermishandeling word vandeesweek na die Hopetown-polisie oorgeplaas vir nadere ondersoek. Du Plessis het gesê die Go Purple-stigting beoog om dié aanklagte op nasionale vlak te laat ondersoek indien geen van die sewe partye vervolg word nie.

Regter Bam het tydens sy uitspraak in die hof sy misnoeë uitgespreek oor hoe die Orania-gemeenskap die situasie betreffende die kinders se mishandeling hanteer het. “Dit was duidelik dat die kinders mishandel word. Die gemeenskap het om onbekende redes gefaal om die nodige stappe te doen om die kinders te beskerm. Ek is verbaas dat dokters, onderwysers, ʼn dominee en ʼn berader net die blaam rondgeskuif het. Hierdie mense kon netsowel medepligtiges gewees het,” het hy gesê.

Jaco Kleynhans, Orania se woordvoerder, het in reaksie op Bam se opmerkings gesê talle individue en instellings was aktief by die maatskaplike probleme van die Koekemoer-gesin betrokke en “ons is op ʼn diep persoonlike vlak deur [Poppie se] moord geraak”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

69 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Tussen die lyne lees ek dus die betrokkenes van Orania kan hul vir n ongemaklike tydjie voorberei?

Justice for Poppie

So ingenome met hierdie aksie. Die wat nie hul pligte nagekom en hul werk waarvoor hulle betaal word gedoen het nie is medepligtig aan poppie se moord en die mishandeling van haar en haar sibbes. Hulle het ñ klein brose dogtertjie gefaal

Mary

Het verlede week op Orania se persverklaring gesê dat hulle soos die deler/steler skuldig is aan haar dood
Hulle moes haar en haar boeta weggeneem het en in pleegsorg geplaas het.

adri

ek stem – dankie dat iemand die insig gehad het om hierdie stap te neem. laat dit sommer as ‘n waarskuwing vir ons samelewing wees. want so siek soos die mensdom is, is dit nie die laaste Poppie wat so wreed VERMOOR word nie!

Ada

Dit is die beste nuus ooit!! Vanaf Poppie se moord al het ek gewonder waarom daar nie meer gedoen was om die kindjie en haar boetie te beskerm of van die ouers af te neem nie. Dit was ongelooflik dat veral die welsyn nie daadwerklik opgetree het nie omdat hulle veronderstel is om op te tree in sulke gevalle. Ook die skooltjie en dokter en dominee kon polisie toe gegaan het om die kindertjies se aanrandings aan te meld. Wie ook al daarvan geweet het – moes dit by die polisie aangemeld het. Daardie mense het almal geweet en niks… Lees meer »