Nóg strenger waterbeperkings vir Kaapstad

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Die Stad Kaapstad het vanaf Saterdag nóg strenger waterbeperkings ingestel.

Die Stad het in ʼn verklaring gesê vanaf 1 Julie word vlak 4b-beperkings ingestel om waterverbruik te beperk tot 500 miljoen liter gesamentlike waterverbruik per dag. “Dit is noodsaaklik aangesien damvlakke kritiek laag is en reserwes in die winter opgebou moet word in afwagting op die warm somermaande wat voorlê,” lui die verklaring.

Die Stad het gesê dit beteken dat elke persoon per dag minder as 87 liter water sal moet verbruik.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, water en energie, het gesê die somer sal na verwagting baie droog wees met onsekere reënval. “Ons vra elke verbruiker om minder as 87 liter water per dag te verbruik, of jy by die huis, by die skool, by die werk of elders is. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie teiken nie net vir huishoudelike gebruik is nie,” het Limberg gesê.

“Die waterbeperkings is deel van ons proaktiewe droogtebestuur-ingrypings, tesame met die grootskaalse drukverminderingprogramme oor die hele Kaapstad om verbruik te verminder. Ander noodmaatreëls word tans ingestel.”

Limberg het gesê daar is steeds baie huishoudings wat meer as 20 000 liter water per maand gebruik. “Ons het verbruiksvlakke gemonitor en verbruikers wat oortree, aangespreek. Ons sal ook waarskuwingsbriewe uitstuur waarin hulle gewaarsku word dat waterbeheertoestelle by huise met onregverdigbaar hoë verbruik geïnstalleer sal word om die waterverbruik tot ʼn aanvaarbare vlak te verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

André ·

Die verbruiker word gestraf vir die stad Kaapstad se onbevoegdheid. Die probleem kom nie van gister af nie, so wat was daar gedoen omtrent die situasie?

Gerhard ·

Kaapstad het van die beste water planne in die land. Ongelukkig is hulle afhanklik van nasionale Departement van Waterwese – dis hulle damme wat die water voorsien…

Die een ding wat Kaapstad nog mis, is die hergebruik van water. Op 31 Maart het die Weskaap regering ‘n skrywe na alle munisipaliteite gestuur om suiwering van gebruikte water op terrein en die hergebruik daarvan te bevorder. Ons is met verskeie projekte besig waar ons op terrein rioolwater suiwer en hergebruik. Besparings is groot. Selfs in die middestad spaar ons tot 85kl per maand op kantore deur water weer vir toilet spoel te gebruik.

Ons het min reën. Niemand kan dit verander nie. Om te blameer gaan ook nie die probleem oplos nie. Elkeen moet hand in eie boesem steek – spaar waar jy kan en hergebruik waar jy kan. Ons doen dit reeds vir 12 jaar in ons huis. Nie net spaar ons water nie, ons spaar ook geld op die manier.

Kapenaars stort tans 450 miljoen liter gesuiwerde rioolwater in die see. Dit kan op terrein gesuiwer en hergebruik word, dan het ons nie ‘n tekort nie…

Houtoog ·

Goed om te sien dat water ‘verbruik’ word en nie ‘gebruik’ word soos wat al voorheen gebeur het op MM. Iets wat opraak (klaar raak) word verbruik andersins gebruik ek my wasmasjien, motor, elektriese boor ens.
Ek sien dat dit jolig gaan met water uit die Vaaldam met die oormatige natspuit van gras (ja, selfs gedurende die winter!) asook die opritte by huise in Vanderbijlpark en op Deneysville.
Ek wens ek kon hierdie waterdiewe saamneem na die Brandberg en Naukluftberge in Namibië sodat julle kan leer die waarde van water.
Daar was in die 1960’s ‘n waterjaar met die leuse: “Water, werk mooi daarmee want ons leef daarvan”.
Vir my lyk dit of daar dadels van gekom het.

Paul ·

Het hulle al ooit gehoor van die verwantskap tussen prys en vraag? Ekonomie 101.

Maak die prys hoër en mense sal minder gebruik.

Gerhard ·

Hulle het. As jy nou meer as 50kl per maand gebruik, dok jy R300 per kl op!

Cherokee ·

Paul, dit wat jy as slim kommentaar beskou word in my boek as negatief gemerk. Pryse wat styg, soos jy voorstel ter wille van waterbesparing, word nooit weer verlaag nie selfs as daar vloede sou wees. So, dit was ‘n uiters negatiewe voorstel.

Gerhard ·

Kaapstad het 4 tariefstrukture. Huidig geld die hoogste. Soos wat beperkings verlaag na bv. vlak 3 of 2, so daal die tariewe daarmee saam.

Ons kan dit egter nie bekostig om aan te hou drinkwater aanwend vir besproeiing, toilet spoel of ander doeleindes nie. Die bevolking groei en ons damme groei nie. Reën is min.

Die goeie nuus is dat ons water op terrein kan suiwer vir hergebruik teen ‘n skamele R2 per kl. So spaar ons water EN geld. Die stelsels kan finansier word en die besparing betaal die paaiment, dus is daar geen verskoning vir vermorsing nie.

JJ ·

Water is en gaan ‘n probleem wees vir ‘n onbepaalde tyd in die Wes Kaap. Indien AL die inwoners nie saamwerk nie, GAAN ons sonder water sit. Baie mense weier om iets te doen want dis baie moeite om met net 87lt per persoon klaar te kom en hoekom moet ek myself verontrief as ander dit eerder kan doen? Almal wat wel probeer spaar is dit eens, jy waardeer water meer, dink oor jou verbruik en besef dinge moet verander. By die werk is dit nou ‘n kompetisie om te sien wie kan die meeste spaar en ons wys mekaar ons rekeninge. Ons maak die beste van hierdie saak en hoop ons kry wel goeie reen veral vir die boere se onthalwe.

Gerhard ·

Dankie JJ. Saam kan ons ‘n verandering bring. Om te blameer help niks. As die water op is, is dit vir almal op. Ook vir die wat blameer.

CFS ·

Paul,jy het seker nie veel verder as Ekonomie 101 gevorder het nie.Die huishouding met ń goeie inkomste kan elke lid elke dag ń bad vol water tap terwyl die arm huishouding se mense dan “spaar” omdat hulle nie meer water kan bekostig nie.Seker nog altyd deur pappie en mammie ingestop.

Yster ·

Hoekom het Wes Kaap so lank gewag om beperkings in te stel. Toe ons 40% water oorgehad het moes hulle mos geweet het wat kom nog voor die reën seisoen. En dan gee ons nog al die onwettige inkomers ook water. So nie sou ons water genoeg gewees het. Miskien min maar genoeg.

Gerhard ·

Yster, voor jy kommentaar soos hierdie lewer, doen die moeite om te gaan oplees oor Kaapstad en sy waterverbruik. Oor die laaste 10 jaar het die bevolking van die stad met 30% gegroei en waterverbruik het min verander – juis weens pro-aktiewe maatreëls.

lynni ·

Hul beveel aan dat ons elke tweede dag stort of bad. Alternatiewe dae net n ‘wipe down’. Badwater moet gehou word vir toilet. Praat ook van wasmasjiene wat spoelwater stoor vir volgende was. Daarvoor het ek ongelukkig nie geld nie. Krisis oppad die somer.

Gerhard ·

Ons spoel reeds ons toilette met badwater. Vang reënwater op vir wasgoed en skottelgoed. Een van die groot 4 banke het met ons hande gevat en sal installasies wat water bespaar finansier. Jy hoef dus nie self op te dok nie. Jou besparings in water kan die paaiement dek – en jy spaar lewenslank, maar die paaimente hou op na ‘n tyd!

John ·

Watter ander planne is in plek vir die toekoms want die bevolking gaan eerder meer as minder en armer word soos die ekonomie nou staan? Die lee maar toegeslikte damme is ook nie skoongesleep in die somer om meer plek vir water te maak nie ~ na my mening een van die vernaamste redes vir die huidige krisis. Oor 10 jaar sal daar net 1% plek vir water oorbly in die ‘panne’. Praat en dreig en regulasies uitvaardig is soos kougomkou, dit kos geld en hou die kakebene vreeslik besig, maar die maag bly leeg…

Gerhard ·

Kaapstad is al jare besig met nasionale DWS hieroor. Maar dit val op dowe ore….

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek weet nie hoe Kaapstad die daaglikse gebruik van water kan monitor nie. Miskien moet hulle sommer in die “townships” begin waar plasse en poele water onder oop krane le.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.