Nóg ‘stropers’ in wildtuin vasgetrek

Die polisie se K9-eenheid wat die afgelope naweek die vermeende stropers help opspoor het (Foto: SANParks)

Nóg drie vermeende renosterstropers is Woensdag in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. Dit volg nadat vyf die afgelope naweek aangekeer is nog voordat hulle enige renoster leed kon aandoen.

Isaac Phaahla, woordvoerder vir die wildtuin, sê veldwagters het in die vroeë oggendure die spore van die drie verdagtes gevind en hulle agternagesit. Die polisie se lugvleuel is ook ontbied om uit die lug te help om die verdagtes op te spoor. Een van die verdagtes is kort daarna aangekeer.

Die ander twee verdagtes is laatmiddag vasgetrek en aan die polisie oorhandig. Daar is ook op ʼn jaggeweer, ammunisie en strooptoerusting beslag gelê.

Die wildtuin se bestuur loof die veldwagters wat heeldag hard gewerk het om die vermeende stropers op te spoor.

Ná dié onlangse inhegtenisnemings is daar nou altesaam agt stropers wat die afgelope vyf dae in die wildtuin vasgetrek is.

Maroela Media het vroeër berig veldwagters en die polisie se lugvleuel en honde-eenheid was Saterdag op ʼn groep van drie vermeende stropers se spoor. Hulle kon daarin slaag om een van hulle aan te keer en het op ʼn vuurwapen en byl beslag gelê. Een van die verdagtes is deur ʼn olifant doodgetrap terwyl die derde verdagte daarin kon slaag om te vlug en steeds op vrye voet is.

Daar is Sondag tydens ʼn roetine-patrollie spore van nóg drie vermeende stropers in die wildtuin gevind. Hulle is ook later vasgetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kokerboom ·

Welgedaan Sanparke. Die hartseer is dat inhegtenisnemings is tydelik van aard. Binnekort is hul vry en sit hul vernietigingswerk voort!!!!

Samuel ·

Ek stem volmondig saam dat inhegtenisname slegs tydelik is. Die stropers gaan borgtog kry en voortgaan met hulle vernietigingswerk.

Wat op dees Aarde ·

Lyk my ons kort méér opgeleide olifante om na die stropers te soek…

Cd ·

Die veldwagters se harde werk word waardeer.
Laat ons dit wat nog lewe bewaar

Jack ·

So die olifant verstaan die reg van vergelding baie beter as die wat die wet moet toepas. Gee die olifant n goeie medalje vir dapperheid. Mooi.

akkedismis ·

Hommel tuie kan dag en nag patrollies vlieg en so die stropers identifiseer en arresteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.