Nóg swaar reën, dié keer vir binneland verwag

Argieffoto (Foto: HubertRams, Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n waarskuwing uitgereik vir swaar reën- en donderbuie en die moontlikheid van vloede wat groot gedeeltes van die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap teen Dinsdagmiddag gaan tref. Hierdie stormweer sal na verwagting vir die res van die week voortduur.

Die tropiese sikloon Eloise is Sondag na ’n laagdrukstelsel afgegradeer en woed tans oor die suidwestelike gebiede van Botswana. Gegewe die posisie van hierdie laagdrukstelsel en met inagneming van die windrigting (in die Suidelike Halfrond), word die tropiese vog van die storm nou suidwaarts na die sentrale dele van die land versprei.

’n Kans van 60% tot 80% vir reën word vir die verre noordoostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, westelike gedeeltes van Noordwes en die westelike asook die sentrale gebiede van die Vrystaat voorspel. Die weerdiens verwag dat hierdie wydverspreide reënbuie teen Donderdag in ’n effens oostelike rigting sal beweeg.

Die weerdiens waarsku teen moontlike oorstromings weens swaar reën in laagliggende gebiede. Die moontlike oorstroming van paaie kan ook vir motoriste ontwrigtend wees.

“Die moontlikheid van oorstromings is groot omdat normale tot bo-normale reënval onlangs in die binneland uitgesak het. Grond in van die gebiede is reeds met water versadig, veral in die Vrystaat langs die N1-snelweg, en sal nie nog water kan absorbeer nie,” sê die weerdiens.

“Daarom is die grootste bekommernis oorstromings en die verlies van landbougewasse weens oormatige reënval.”

Temperature in die binneland sal boonop na verwagting gedurende die dag koeler wees, wat sal bydra tot ’n laer verdampingstempo.

Verder sal ’n koue front Woensdag verby die land beweeg.

Maroela Media het vroeër berig swaar reën en stormsterk winde, wat deur die tropiese sikloon Eloise veroorsaak is, het die afgelope naweek verwoesting in die noordoostelike gedeeltes van die land gesaai. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige paaie is nou ontoeganklik weens reënskade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

4ntj13 ·

Vrystaatse dreineringsprobleme by die N1 verwag, dus? Vroeër jare was daar gereeld “wolkbreuke” in die Vrystaat. Dis 100 mm/h.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.