Nóg swaar reën, hael in Gauteng verwag

(Argieffoto: Unsplash)

Swaar reën wat Maandag in Gauteng uitgesak het, sal teen Vrydagmiddag weer hervat, met die moontlikheid van hael in sommige dele.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Vrydagmiddag tot Saterdagoggend ʼn geel vlak 4-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën in die hele Gauteng. ʼn Geel vlak 2-waarskuwing is ook uitgereik vir donderstorms wat met rukwinde en moontlike hael gepaardgaan.

Volgens die weerdiens kan tot tussen 30 mm en 50 mm reën in hierdie provinsie verwag word.

Die weerdiens waarsku dat die swaar reën moontlike oorstromings van formele en informele nedersettings en paaie kan veroorsaak.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, is nooddienste reeds op ʼn hoë vlak van gereedheid geplaas.

“Inwoners moet versigtig wees by laagliggende brûe en geboue met swak infrastruktuur wat moontlik kan oorstroom. Maak eerder gebruik van alternatiewe roetes,” sê hy.

Eskom het inwoners van Gauteng gewaarsku teen kragonderbrekings weens die stormweer.

“Kragverbruikers word versoek om nienoodsaaklike toestelle af te skakel om kragonderbrekings te beperk. Gebruik alternatiewe verhittingsmetodes soos komberse om warm te bly,” het die kragvoorsiener gewaarsku.

“Kragverbruikers kan sonder krag sit weens die stormweer wat die kragnetwerk beïnvloed. Ons versoek almal se geduld hiermee,” het Eskom gesê.

Maroela Media het vroeër berig reënerige toestande (en waarskynlik oorstromings) word van Vrydag af in Gauteng, Noordwes en die noordelike dele van die Vrystaat verwag. Die oostelike dele van die Noord-Kaap, die noordelike en oostelike dele van die Oos-Kaap, die westelike dele van KwaZulu-Natal en die Hoëveld van Mpumalanga sal na verwagting Saterdag deurloop.

Hierdie reën sal na verwagting tot Sondag voortduur.

Ligte sneeuval kan Saterdag- en Sondagaand oor die oostelike en suidelike dele van Lesotho en die omliggende Drakensberg verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.