Nog swaar reën op pad

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Inwoners in vier van die land se provinsies kan ʼn besonderse nat naweek – en moontlike oorstromings – verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) het Vrydag vir die tweede keer die week oranje vlak 5-waarskuwings vir ontwrigtende reën in KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng uitgereik.

Volgens die weerdiens veroorsaak ʼn laedrukstelsel in die boonste dele van die atmosfeer en ʼn hoëdrukstelsel wydverspreide reën- en donderbuie aan die kus van KwaZulu-Natal.

“Gegewe die voortslepende reënbuie en die water wat reeds in gebiede opgegaar het, kan inwoners ʼn beduidende impak oor die volgende paar dae aan die kus verwag,” lui die waarskuwing.

Intussen is riviere in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng so vol dat dit begin oorloop.

“Die grond is reeds versadig met water en sal voortgaan om in die rivierstelsels in te voer wat tot vloede kan lei.”

Die reën- en donderbuie sal na verwagting vandag en more in hierdie gebiede voortduur, maar sal plek-plek swaarder uitsak.

Dele van die Waterberge in Limpopo sal veral erg geraak word, terwyl Ermelo in Mpumalanga asook die hele Gauteng swaar en ontwrigtende reën kan verwag.

Dele van Pretoria het reeds verspoel en paaie moes vroeg al vir verkeer gesluit word. ʼn Man is ook Donderdag deur die sterk strome van die Apiesrivier meegesleur.

Dele van Mpumalanga het reeds verspoel. (Foto: Verskaf)

Die VF Plus het intussen ook geëis dat die plaaslike regering in Mpumalanga dringend bystand aan inwoners verleen, aangesien gebiede in hierdie provinsie ook verspoel het.

ʼn Bejaarde man van Kamdladla en ʼn 18-jarige gr. 12-leerder van Hoërskool Shongwe in Driekoppies het reeds hul lewe in die oorstroomde Mlumatirivier verloor.

Talle mense was boonop Donderdagoggend in hul dorpe vasgekeer toe die oornagreën verskeie brûe wat hulle met die dorpe verbind, oorstroom het.

Dit terwyl verskeie paaie in die Krugerwildtuin noodgedwonge gesluit is nadat ʼn reënbui Woensdag oor die gebied uitgesak het. Die Onder-Sabie-, Krokodilbrug-, Biyamiti- en Talamati-kamp is sedert Donderdag ontoeganklik.

“Daar moet dringend geld beskikbaar gestel word om reddingspogings en noodvoorrade te finansier,” sê Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus.

“Tydelike veilige skuilings vir inwoners moet so gou as moontlik opgerig word sodat inwoners van laagliggende gebiede wat reeds oorstroom het, na veiligheid gebring kan word. Die nodige gebeurlikheidsplanne moet ook dringend in werking gestel word.”

Die weerdiens het intussen Suid-Afrikaners gemaan om versigtig te wees, aangesien die swaar reën dalk nog vir dae lank kan voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugene ·

Ramp-phosa moet minister van oorstromings ook aanstel, Soos minister van elektriesiteit en minister van slagate.

WILLEM ·

In PE het ons groot water probleme. Damme is amper leeg en teen Julie het ons geen water nie. Bid aub dat ons ook reen sal kry!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.